Local sportSport

Pumas sterk op pad na eindstryd

"Enige span wat met 'n strafskoptelling van 19-7 teen hulle kan terugveg om 'n wegwen te verseker, het beslis karakter."

Dit was die woorde van die gelukkige Steval Pumasafrigter, Jimmy Stonehouse, na sy span se 12de agtereenvolgende oorwinning in die Curriebeker Eersteliga toe hulle die SWD Arende in George Vrydagaand in die doodsnikke van die wedstryd met een punt oorrompel het.
Volgens Stonehouse het die Pumas swaar onder die skeidsregter en lynmanne deurgeloop met vele kontroversiële beslissings, wat hulle wel vandeesweek met André Watson sal opneem. “Daar was drie geleenthede vir besliste drieë wat ons nie gebruik het nie. Die Arende, inteendeel, het egter op hulle beurt elke geleentheid vir hulle 27 punte gebruik,” noem die breier.
Met die sege van 28-27, danksy ‘n lang strafskop in die laaste paar sekondes van die
wedstryd deur JC Roos, kon die Pumas ‘n tuissemifinaal beklink wat op 4 Oktober
by Mbombela Stadion gespeel sal word.
Anders as wat die telling wil voorhou, noem Stonehouse dat die Pumas by tye briljante rugby gespeel het. Die voorspelers het in alle fasette gedomineer en het selfs drie vasskoppe in die eerste 15 minute gehaak, maar sy grootste kwelling is dat die agterspelers steeds nie balbesit in kritieke tye behou nie. “Die frustasie van die spelers het later wel hulle besluitneming beïnvloed en was duidelik sigbaar, maar ons
moet hieruit leer,” voeg hy by.
Rosco Speckman het ook die naweek weer eens bewys dat hy ‘n angel in enige span se vlees kan wees met twee briljante drieë. Coenie van Wyk was ook weer agter die doellyn met Roos wat die addisionele punte met die skopvoet bygedra het. Nog spelers wat uitminute spel gelewer het was kaptein Corné Steenkamp, Rudi Mathee en dan Corné Fourie wat op vaskop begin het. Fourie is ongelukkig met ‘n geelkaart later in die wedstryd gestraf.
Die Steval Pumas het nou 56 ligapunte met die OP Kings in die tweede plek op 42 na
hulle oorwinning van 40-19 oor die Regent Boland Kavaliers. Die komende naweek
sal die Pumas se opponente vir die semifinaal beslis word in die wedstryd tussen
die SWD Arende en die Luiperds. Die twee spanne veg om die derde en vierde plek
op die ranglys met onderskeidelik 37 vir die Luiperds en 36 vir die Arende.
Saterdag sal die Pumas in die voorlaaste wedstryd van die liga teen die Regent Boland Kavaliers hier op Mbombela Stadion koppe stamp. Stonehouse noem dat hy heel moontlik heelwat veranderings aan sy beginspan sal maak om vir die topspelers ‘n blaaskans te gee, maar dat hy nie die wen sal prysgee nie. Die wedstryd sal om 15:00 afskop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button