Marnevic weet sy talente kom van bo
Hierdie joernalis se oë het gerek toe sy Marnevic Muller (11) se skittervertonings gadeslaan het.

Dié Laerskool Laeveld-leerder is een van daardie kêrels wat op alle vlakke presteer – nie net in sport nie, maar ook in akademie.
“Hy het nog altyd ‘n positiewe gesindheid en spreek lewe en nie dood nie. Niks sit hom terug nie,” het sy ma, Michelle gesê.
Hy het in gr. 1 met krieket begin, en speel tans vir die o/11 A’s. Marnevic het van toeka-tyd Bulletjie-rugby gespeel en is onlangs vir die o/13-sewestoer wat Oktober in Nylstroom plaasvind, gekies. Om sy brein af te wissel, speel hy graag skaak.
“Ek dink baie strategies en dit pas by my persoonlikheid. Ek het agtste in die top-10 van Mpumalanga geëindig. Ek neem in Desember in Durban aan die
Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deel, waar ek in die junior Mpumalanga-span ingesluit is.”
Waarvan hou hy die meeste? Dit was ‘n moeilike besluit, maar as hy moet sê, kies hy definitief gimnastiek. “Ek het verlede jaar met dié sport begin. Ek het by die Noord-Zone-kompetisie, algeheel goud op die brug met ‘n telling van 9.5 ontvang en het ook die hoogste gemiddelde toekenning gekry. Ek het reeds my Mpumalanga-klere ontvang.”
Hy spog met ‘n akademiese gemiddeld van 80 persent. Hy gaan sy sporttalent los om dieper in sy klipversameling te delf. Hy het klippe waarvoor geoloë hulle oogtande sal gee. “Ek gaan ‘n geoloog word. Ek was van kleins af baie lief vir klippe. Soos ek loop, tel ek graag op.”
Vir Marnevic is dit genade van bo, en hy weet sy talente kom alleenlik van die Here af.
