Pumas glo nie in bygelowe
Dertien word meestal as 'n ongelukkige getal gereken, maar die Steval Pumas het hierdie bygeloof besweer toe Saterdag hul 13de oorwinning in die eerste liga van die Curriebeker teen die Boland Kavaliers behaal het.

Die Nelspruiters het met ‘n telling van 42-21 (20-7) gespog en die besoekers se drome van ’n plek in die uitspeelrondes is neusie verby.
Die Pumas-breier, Jimmy Stonehouse het nóg ‘n rede om breed te glimlag – sy span speel Vrydag teen die Valke in Kempton Park en kan die eerste span in die geskiedenis word om dié seisoen se ligafase onoorwonne af te sluit. Met ’n totaal van 534 punte is dit ook die meeste wat ‘n span nóg in die liga kon aanteken.
Dit was nietemin in die eerste 18 minute duidelik wie hier die broek dra. Die terugkeer van die beseerde Danwell Demas was, soos te wagte, ‘n uitgehongerde leeu en het ‘n kolossale wedstryd gespeel.
Dié lang lenige vleuel het reeds in die eerste minuut ’n wegholdrie gaan druk en 17 minute later wéér onder die Bolanders se doellyn gaan kuier.
Die Kavaliers se haker, Clemen Lewis, is in die 12de minuut deur die skeidsregter, Marius van der Westhuizen koelkas toe gestuur vir onkantspel. Braam Gerber het in die 24ste minuut die eerste punte vir sy span aangeteken met Len Olivier wat verdoel het.
Kort voor rustyd het die ysterslot, Rudi Mathee die tuisspan se derde drie gedruk.
Alhoewel die losskakel, Carl Bezuidenthout vier doelskoppe verbrou het, het hy deur ’n gaping geglip om sy sewe punte op die telbord aan te teken. Natuurlik is daar vir hom ook ‘n rekord wat wink. Sou hy vir die Valke-wedstryd verkies word, kort hy net nog sewe punte om die speler te word wat die meeste individuele punte ooit in die liga se geskiedenis aangeteken het.
Skaars ses minute later, het die skrumskakel Reynier van Rooyen (agterspeler van die wedstryd), ook gaan druk.
Die Bolanders kon in die tweede helfte net twee drieë deur die skrumskakel, Ntando Kebe en Brendon April as gevolg van verbroude duikslae aanteken “Ons het aan die begin van die seisoen ‘n hele paar sleutelspelers verloor en hierdie is ‘n baie jong span. Dit was ‘n goeie leerervaring, veral teen ‘n briljante span soos die Pumas,” het die afrigter van die Bolanders, Eugene Eloff na afloop van die kragmeting gesê.
Uzair Cassiem en Wilhelm Loock het later hulle stempel onder die pale
gaan afdruk. “Die tweede helfte was baie uitdagend as gevolg van die nat
weersomstandighede, maar ek voel ons het ‘n goeie wedstryd gehad,” sê
Stonehouse.
Die spanne in die derde (Arende) en vierde (Luiperds) plekke sal in die halfeindronde teen die OP Kings en Pumas te staan kom.
Die Pumas is uiteindelik voltallig met die verwelkoming van Pumaki, die span se gelukbringer wat Saterdag vir die eerste keer sy verskyning op die veld gemaak het. Die Nelspruiters lê tans met 61 boaan die punteleer.
