Geen hindernis te groot vir span
Ses van Komatipoort se mees avontuurlustige atlete het onlangs die uitputtende Impi Challenge by Van Gaalens naby Hartebeespoort, aangedurf.

Die wedloop, ideaal vir adrenalienvrate, buitelug- en natuurentoesiaste, is vol avontuur en stel jou liggaam op die proef in die mees ongelooflike, skilderagtige, ongerepte areas in ons land.
Die roete is 12 kilometer lank, met 17 hindernisse en vind by
van Gaalen’s Hartebeespoort, Lievland Wine Estate, Wiesenhof Legacy Parks in die Wes-Kaap, en Virginia Trails in KwaZulu-Natal plaas.
Dit behels ‘n hardlooproete sowel as ‘n militêre-styl hindernisbaan – ‘n fisiese uitdaging, maar ook ‘n spanbou-oefening. Deelnemers moes van sekere hoogtes in die rivier inspring, in modder hardloop en swem, en deur die nouste openinge kruip.
Volgens die span van sewe lede, was dit ‘n hoogtepunt in hul lewens en sal hulle almal dit defenitief weer doen. Die lekker spanwerk was feitlik vir almal die mees uitstaande element in die wedloop. Almal help mekaar voortdurend, selfs lede van ander spanne is behulpsaam.
Kerry Ann Clarke het gevoel die uitdaging om van die 15 meter hoë plank in die rivier te spring, was vir haar die mees uitdagendstel, maar dit was in geheel vir haar ‘n wonderlike ervaring. Haar man, Russel Clark, meer ‘n fietsryer en fiks in dié sport, het die hardloop die moeilikste gevind.
Melody en Arthur Oosthuizen sê die “leopard-crawling” het baie van mens gevra, maar die baie lag was die algehele beste ervaring van die geleentheid.
Volgens Madeleine Wassermanh was dit groot pret. “Dit was lekker om saam te werk en mekaar by te staan en te help. Daar was ‘n lekker gees by die resies en dit was baie goed georganiseer. Die 15 meter hoë op- en afklim aan die
ander kant, was die ergste.
Ek het gebewe toe ek aan die anderkant afklim en my bene was soos jellie. Al die gelag en om jou vrese in die oë te kyk, was hoogtepunte van die dag.”
Lehani du Preez het vertel dat daar ‘n fantastiese spangees was. “Die 20-meter hindernis wat ons tegelyk met nog 20 ander deelnemers moes klim, was nogal vreesaanjaend. Ek was bang iets gee mee. Ons maagspiere was seer van al die lag – en ja, defenitief gaan ons dit weer volgende jaar doen!
Gustav Claassen het gesê: “Die lyf is OK, hier en daar ‘n pyn, maar só die moeite werd! Die blouspan het gekook, daar was ‘n goeie gees en hul het baie momentum gehad.”
Daar was ook ‘n een-kilometer Impi-uitdaging vir kinders – en die Wasserman- (Thomas, Janke en DJ) – en Clarke- (Tayla, Jude en Sophia) jongspan het hulself gate uit geniet en al te heerlik saam geklim en geklouter.
Janke het vertel dit was vir haar erg toe sy van die een kant van die water na die ander moes swaai met ‘n gladde tou. “Dit was die lekkerste om deur die modder te swem.” Ernstig mededingende atlete kan die Impi Elite aanpak
wat 21 hindernisse oor ‘n 17km-roete behels.
Die Elite-wedloop is een van die gewildste kompetisies op die Suid-Afrikaanse Enduro/ avontuursportkalender en is reeds een van die mees veeleisende maniere om ‘n individu se spoed, uithouvermoë, pyndrumpel, en uithouvermoë te toets.
