EntertainmentLifestyleLocal sportSport

Suid-Afrikaanse Lyndans-kampioenskappe skop eersdaags in Lydenburg af

Die lyndansers in die dorp is besig om hul vere reg te skud vir een van die grootste danskampioenskappe wat eersdaags hier op eie bodem afskop

LYDENBURG – Die lyndansers in die dorp is besig om hul vere reg te skud vir een van die grootste danskampioenskappe wat eersdaags hier op eie bodem afskop. Die Saddleback School of Dance is onlangs, tydens die provinsiale kompetisie wat in Durban gehou is, as die aanbieders van die Suid-Afrikaanse kampioenskappe op 19 Oktober aangewys. Die Saddleback is die enigste lyndansskool in Mpumalanga en het sy deure ampelik in April geopen en het reeds talle medaljes losgedans. “Dis ‘n wonderlike geleentheid en eer om so groot kompetisie in Lydenburg aan te bied,” vertel Estelle Joubert, voorsitter van die dansskool.

Hulle is veral opgewonde oor die feit dat Johan Labuschagne hier ‘n draai gaan kom maak en self ook sy staal kom wys op die dansvloer. Labuschagne is vir twee agtereenvolgende jare as wêreldkampioen gekroon en het onlangs van China teruggekeer waar hy deelgeneem het. “Johan is ‘n fantastiese danser en toe hy voorstel dat die SA kampioenskappe hier aangebied word, was ons behoorlik uit ons vel,” sê Joubert.

dans2

Afgesien van die groot opgewondenheid, meen die organiseerders dat daar ook verskeie uitdagings by die reël van so ‘n groot gebeurlikheid. “Omdat ons die enigste lyndansskool in Mpumalanga is, mag mense moontlik dink dit geniet nie baie aansien nie en dat dit waarskynlik nie ‘n bekende sportsoort in die omgewing nie, wat hul betrokkenheid by die geleentheid mag verhinder.”

Hulle hoop egter om dié siening tydens die kampioenskap te verander en om gewildheid hiervan te bevorder. “Hierdie is ‘n sport wat deur elke persoon beoefen kan word en ons hoop om lyndans in Mpumalanga vinnig te bevorder,” sê Joubert. Wat hierdie kompetisie so uitsonderlik maak, is die feit dat gestremde persone ook gaan deelneem.

Volgens me. Lynette Bowen, PRO van die dansskool, is daar ‘n spesiale afdeling waarin hierdie leerlinge kompeteer en hierdie jaar sal 14 dansers van Estralita aan die kampioenskappe deelneem.

“Trane het in my oë geskiet toe ek hierdie dansers tydens die provinsiale byeenkoms sien dans het. Dit is absoluut ongelooflik en hulle is fantasties. Dit is iets om te aanskou,” vertel Bowen.

dans3

Die kampioenskappe skop reeds op die Vrydag af wanneer dansers die geleentheid sal kry om mekaar te ontmoet, saam te oefen en die aand te geniet.

Vrydag omstreeks 08:00 skop die amptelike kompetisie af en word die deure oopgesluit vir die publiek om hierdie spesiale geleentheid mee te maak. Lyndans is ‘n tipiese Amerikaase konsep waar daar in ‘n lyn op die maat van countrymusiek gedans word, vertel Joubert, maar dat dié konsep nou aangepas is deur verskeie Latyns-Amerikaanse elemente in te werk om by elke land se kultuur aan te pas.

dans5

Volgens die organiseerde beloof dit om ‘n swierige geleentheid te wees en nooi hulle almal hartlik uit om die dansers te ondersteun. Kaartjies sal by Hoërskool Lydenburg teen R30 per persoon op 19 Oktober by die deure beskikbaar wees.

Navrae: Estelle by 071-412-1061 of Lynette by 083-548-3241.

Back to top button