Local sportSport

Vissers maak lyne nat

Op Erfenisdag het manne van die omgewing besluit om dié dag te vier deur lyne om die pragtige Bazaruto Archipelago te gaan natmaak.

BURGERSFORT – Die span het snawelvis – hoofsaaklik marlyn – geteiken en kon na ses dae op die boot, ballyhoo, met vier van hierdie visse spog.
Die naaste vastelanddorp aan die eiland Bazaruto is Inhassoro, hoewel dit administratief aan die Vilankulo-distrik en Inhambane-provinsie behoort. Daniel Bakker, Jaco Lombard, Sean Joubert, Johan Labuschagne en Daniel Fourie het dié Sondag die see vanaf Inhassoro ingevaar en was onsuksesvol in 300m-diepte water.
Teen die Dinsdag het die bemanning se geluk begin draai toe hulle met ‘n groot blou marlyn vasgemaak het. Joubert het die leiding geneem en na ‘n geveg van ‘n driekwartuur het die vis ongelukkig losgekom.

Dit het nie die span se moed gebreek nie en die volgende dag het Bakker ‘n blou marlyn van ongeveer 130kg gevang en weer vrygelaat. Die vis is in 45m-diepte water met swart en pers pulsator-kunsaas gevang.
Die span se gemoedstemming het verbeter na die ys gebreek is. Die
Donderdagmiddag het Labuschagne ‘n draai in die hengel stoel gemaak toe hy ‘n seilvis van 35kg gevang het.

“Die vis het ongelukkig gevrek en daarom het ons dit uitgehaal. Hy is met ‘n blou bonito-smoker in ongeveer 500m-diepte water gevang. Ons kon die groot tunas en vlieënde visse sien. Daar was ook baie plankton in die water,” vertel Fourie.
‘n Halfuur later het die span weer ‘n vis vasgemaak. Die keer het Lombard in die stoel geklim en sy eerste blou marlyn van 184kg gevang. “Die vis is in 500m water met groen blackbart-kunsaas gevang,” vertel Fourie.
Die laaste dag het die span in 600m water gaan draai. “Ons het baie lewe daar gekry insluitend ‘n seestroom, voëls, vlieënde visse en tuna. Ons het geweet dat ons in die regte waters was en die middag het ons met ‘n gestreepte marlyn vasgemaak.

Ek het die vis op swart en oranje islander-kunsaas
en 30-lbs lyn in ‘n halfuur gevang. Ons het dit ook weer laat swem,” vertel
Fourie.
Na die suksesvolle vangs van die week is die manne trots huis toe en het reeds begin beplan aan hul volgende hengelavontuur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button