Vlammie-skut kraai koning
Hoërskool Bergvlam se leerlinge het die afgelope vakansie koning gekraai by die Suid-Afrikaanse Skoleskietkampioenskappe.

Marisa Golding, ‘n gr. 12-leerling, het die hoogste individuele telling behaal en daarmee goue (Sanssu) Suid-Afrikaanse Nasionale Skoolskietersunie-kleure verdien. Sy is ook die nommer een skut in die posliga teen Amerika.
Sy is die o/21-wenner en het ‘n voltal in die lê-posisie geskiet waarvoor sy trofeë ontvang het. Sy het goue medaljes vir die hoogste telling (565 uit 600) in 3P (lê, staan en kniel), die hoogste telling (360 uit 400) in Olimpiese skiet (staan), en die hoogste algehele telling (1 483 uit 1 600) gekry.
Sy is ook die Mpumalanga o/21A-span wenner. Tydens die finale uitskiet onder die agt topskuts, het Marisa algeheel tweede in Suid-Afrika geëindig en ‘n silwermedalje ontvang. Hoërskool Bergvlam is baie trots op haar en haar pa, mnr. Hennie Golding, die skool se skietafrigter.
Dit is onder sy leiding wat sy dogter die afgelope vyf jaar reeds getrou geoefen het. Van die skool se ander leerlinge wat by die kampioenskappe deelgeneem het, is Duncan McGee wat ‘n derde plek as lid van die o/21B-span behaal het.
Dieter Nieuwenhuis het sy persoonlike beste telling met 1 270 punte uit 1 600 behaal. Neo Shabalala het individueel vyfde in die PPP-pistoolafdeling geëindig.
