Local sportSport

Geen stad te ver vir Mnisi

Sipho Mnisi het onlangs aan die City to City-wedstryd deelgeneem en 'n bronsmedalje huis toe gebring.

LYDENBURG –  Alhoewel hierdie hardloper reeds ‘n magdom
titels en medaljes agter sy naam het, was hierdie vir hom ‘n spesiale marathon
waar hy homself voorgeneem het om saam met sy jare lange hardloopvriendin, Lebalang Chiloane, deel te neem.

Sy het onlangs ‘n operasie ondergaan en juis daarom wou Mnisi graag saam met haar hardloop. “Ek wou haar opbeur en daarom het ek gesê ek gaan saam met haar hardloop.”

Ongelukkig het hul plan nie realiseer nie weens die ernstige aard van haar besering en Mnisi moes die 50km op sy eie aandurf.
“My hart was seer en ek het nie lekker gehardloop nie, maar alhoewel Lebalang nie langs my in vlees was nie, was sy steeds in die gees saam
met my.

Ons sal aanhou bid, want ons glo die Here sal ‘n plan beraam sodat sy
weer sal kan deelneem,” vertel hy met trane in sy oë.
Volgens Mnisi is hierdie marathon gewoonlik dié een wat hy gebruik om vir die Comrades en Two Oceans te kwalifiseer en dis duidelik waarom hy dit al soveer maal reggekry het, as jy na sy persoonlike beste tyd van 3:30 vir dié spesifieke wedloop kyk. Mnisi het in 2011 die Mashishing Marathon Club gestig wat tans 60 atlete sterk is.

“Ek wil so graag sien hoe die kinders in hierdie sportsoort ontwikkel en dit in ons gemeenskap bevorder. Dis wonderlik om te hardloop en die pad is my dokter.”
Mnisi hardloop 64km per dag en meen dat ‘n mens dit beslis gewoond raak. Hy hoop dat hierdie voorbereiding genoeg sal wees om hom eendag in staat stel om sy groot droom te verwesenlik.
“Ek droom daarvan om eendag die New York Marathon te gaan hardloop. Dit moet wonderlik wees om daar te kan deelneem.”

Hy meen egter dat finansies tans die grootste struikelblok is wat tussen hom en New York staan. “Dit kos baie geld en in Lydenburg sukkel ons baie met borge.” Alhoewel hy daarvan droom, is sy voete tog plat op die aarde en sê in ‘n nederige en sagte stem dat ‘n paar tekkies nou ‘n reusegeskenk sal wees wat hom met vreugde sal vervul.

Hy bedank graag Volkswagen vir hul bydrae om die Marifane-halfmaraton ‘n werklikheid te maak wat op 14 Desember by Skhila plaasvind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button