Local sportSport

Meesters wag vir die kranige atleet

Toe Rina van Heerden as klein dogtertjie haar eerste tree op die atletiekbaan gee, het sy min geweet dat sy vandag, dekades later, vir ‘n tweede keer haar tasse sou pak met haar Springbokkleure wat heel bo lê.

Van Heerden se atletiek loopbaan het jare terug begin toe grondbane en stofpaaie nog aan die orde van die dag was. Sy dink terug aan haar kinderdae en herroep die persone wat saam met haar hierdie besonderse pad begin stap het.

“Ek onthou vir Juffrou Hannie en hoe sy die grondslag gelê het in Laerskool Klipspruit en hoe harde werk op die plaas saam met my ouers bygedra het tot wie en wat ek vandag is en ook ten opsigte van die ontwikkeling van die sport, maar ook my spiere.”

Van Heerden vertel dat sy nog altyd van uitdagings gehou het en dat sy mal is oor kompetisie, veral teen haarself. “Dit laat mens goed voel”, vertel sy met ‘n
glimlag terwyl sy besig is om die hekkies uit te pak.

Van Heerden het Saterdag na Porto Alegre, Brazil, waar sy gaan deelneem aan die eesterswêreldkampioenskappe wat strek vanaf 16-27 Oktober, vertrek.

Haar passie en liefde vir die sport is opvallend en vinnig vertel sy hoe lief sy is om dit te deel met ander. “Die passie is n talent van God en ek hou daarvan om dit te deel met ander, veral die kinders.

Hulle inspireer my. Sonder hulle en Jesus Christus is ek niks. Die sukses wat ek al bereik het, is deur Hom. Dit gaan nie altyd oor wen nie maar die gesindheid, liefde en selfvertroue wat gekweek word by n atleet.

Dit beteken meer as n wen.” V an Heerden het die eerste keer haar Springbokkleure in Port Elizabeth verwerf vir Hekkies en verskeie hoogtepunte daarna bereik.

Soos wat sy oor die hekkies seil, besef jy opnuut waarom sy ‘n silwer medalje in die 400m hekkies tydens die wêreldkampioenskappe in 1993 in Miyazaki, Japan, asook ‘n brons in die 100m hekkies verwerf het wat dien as enkele hoogtepunte in haar atletiekloopbaan.

“Toe ek op 26 April 2013 vir ‘n tweede keer uitgereik is met Springbokkleure, weer vir hekkies, was ek oorstelp van vreugde.” Sy sak in haar blokke vir die laaste wegspring en mens kan sien dat hierdie besondere atleet se loopbaan lank nog nie verby is nie.

“Ek voel nog nie om op te hou nie en geniet dit nog baie en is te lief vir my atlete”, voeg sy nederig en met ‘n breë glimlag by.

“My atlete bly vriende vir n leeftyd.”
Lydenburg, en veral haar oud atlete, wens haar alle voorspoed toe vir die 100m, 200m, 80m hekkies en 300m hekkies waaraan sy gaan deelneem.

Van Heerden bedank graag Fraser Alexander wat haar Springbok atletiekdrag ten bedrae van R 5000 geborg het asook Karlien Winterbach wat waarneem as afrigter tydens haar tydjie oorsee.

“Dit is ‘n voorreg om deel van haar borgspan te wees en ons wens haar
baie voorspoed en sterkte toe. Ons sien uit om haar terug te verwelkom met ‘n
sak vol goue medaljes,” sê mr Leon de Jager van Fraser Alexander.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button