Pumas reg om eer te herstel
As daar ooit 'n tyd was wat die Steval Pumas jou ondersteuning nodig gehad het, is dit nou eerskomende Vrydag om 19:00.

Na hul kragmeting in Kimberley, in die eerste van twee promosie-relegasiewedstryde teen die GWK Griekwas, is dit asof geskiedenis homself kan herhaal.
Dit was in 2009 wat die span in Wellington teen die Boland Kavaliers in die destydse relegasie-wedstryd gespeel het en met ‘n 21-20 verloortelling die tweede kragmeting aangepak het.
En dit was op hul tuisveld wat hulle die Bolanders kafgedraf het vir ‘n plek in die
Premierliga.
Vrydagaand het die Steval Pumas in die Diamantstad voor ‘n karige tuisskare gewys dat hulle beslis in die hoër liga kan speel, alhoewel die breier, Jimmy Stonehouse nie te gelukkig met sy span se algehele vertoning was nie. Met die 21-19-telling, was dit die Poubloues wat tot op die laaste minuut vir die sege moes veg, na die Pumas die hele tyd voorgeloop het.
Rustyd was die skare doodstil nadat hulle span 13-0 agter was. Met ‘n balbesit-persentasie van bykans 45% dwarsdeur die kragmeting, het die Pumas egter die Griekwas se spelpatroon baie ontwrig, maar kon hulle nie die voorsprong behou om ‘n sege deur te hak nie.
‘n Geelkaart in die 79ste minuut teen die Laevelders se Giant Mtyanda was ook effe ontydig en het die Kimberley-manne die kans gegun om hulle na die oorwinning te lei.
“Ons gaan die week niks aan ons wedstrydplan verander nie. Ons sal egter hard aan ons balbesit, balverspreiding en lynstane werk, wat Vrydagaand ‘n groot probleem was.
En dan praat ek nie eens van die skrums, waar ons geweet het ons gaan sukkel nie,” noem Stonehouse. “Ons kan ‘n sege deurhak! En ek is vol vertroue dat die manne die week hard sal werk daarvoor.
“Die gees is goed na die wedstryd en die ouens het gewys hulle sal alles vir mekaar gee,” noem hy. Maak geen fout nie, die bestuurspan is wel baie bly oor die bonuspunt wat die Pumas verdien het, want dit maak eerskomende Vrydagaand se wedstryd effe makliker.
Die span sal die kragmeting net met drie punte moet wen om na die Premierliga deur te dring. Maar die keersy is dan ook dat die Poubloues nie twee bonuspunte kan verdien nie. Dit sal meebring dat die Pumas vier drieë moet druk om op te skuif.
Vir die week se wedstryd sal Stonehouse nie veel veranderinge aan sy beginspan aanbring nie. Dit is heel moontlik net Carl Bezuidenhout wat dié stryd weens ‘n ribbesering sal misloop.
Volgens die Steval Pumas se bemarker, JayJ Botes word ‘n groot fees vir Vrydag-aand beplan met sangers, dansers en vele kometisies vir die ondersteuners. Maak seker jy bespreek jou plekkie om soos in die finaal, ‘n vol stadion te verseker en bankvas agter die span te staan!
Kaartjies beloop R50 vir volwassenes en R20 vir leerlinge en moet so gou moontlik bekom word.
Botes noem ook dat daar spesiale aanbiedinge vir die restaurantlosie is en hy kan gerus by 082-777-5777 geskakel word. Geesdriftigers kan Woensdagmiddag
tuusen 17:00 en 18:00 die Steval Pumas span by die Jock ontnmoet.
