Moet nie Danie Rossouw Rugbyweek misloop nie
Die oud-All Black, Carlos Spencer is uitgenooi om volgende jaar gedurende die Danie Rossouw Rugbyweek by Hoërskool Rob Ferreria, 'n skopkursus aan te bied.
As gevolg van die suksesvolle aanbieding van 2012, het Robbies besluit
om weer as gasheer vir die toernooi van 30 Maart tot 3 April op te tree.
“Dit is vir ons ‘n groot voorreg om van ons top-rugbyskole na dié besonderse geleentheid uit te nooi. Dit gaan ‘n fantastiese week wees wat ongetwyfeld tot voordeel van elke speler, afrigter en span sal wees,” vertel die rugbyorganiseerder, Albert Booyens.
Die beroemde oud-Springbok, Danie Rossouw wat tans vir die Franse klub Toulon speel, was in 1996 by Hoërskool Rob Ferreira waar hy gematrikuleer het, maar is oorspronklik van Sabie. Mits hy nie verpligtinge in Frankryk het nie, sal hy moontlik die toernooi bywoon.
Die volgende hoërskole het reeds bevestig dat hulle daar gaan wees: Rob Ferreria, Louis Trichardt, Kanonkop, Ben Vorster, Bastion, Frans du Toit, DF Malan, Penryn College en HTS Witbank.
Wat maak dié rugbyweek so uniek?
• Daar word leierskapsessies vir die kapteine en onderkapteine vir alle spanne aangebied.
• Elke wedstryd word op DVD opgeneem en word aan die afrigters oorhandig en elkeen gaan daarop ontleed word.
• Die Blou Bulle Rugby Akademie sal afrigtingsessies aanbied.
Die program is reeds op www.lowvelder.co.za beskikbaar.
Navrae: Albert by 072-190-8342 of robfhs@mweb.co.za
