100 Spelers durf gholf in ysige koue aan
Die manne van Altech Netstar het verledeVrydag tydens die jaarlikse Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe-gholfdag (KMIA) met 'n spogprys weggestap - hulle is met 'n retoervlug vanaf KMIA na enige provinsie in Suid-Afrika vir hulle uitnemende prestasie op die gholfbaan beloon.

Franchoa Giliomee, Sanley van der Merwe, Andy Wagstaff en Gerrit van Wyk was van dié 100 spelers wat in die koue op 18 Oktober by die Witrivier Gholfbaan afgeslaan het.
Dit was die derde agtereenvolgende jaar wat die gholfdag gehou is en SA-Airlink borg
jaarliks die eerste prys.
Elk van die 18 putjies is geborg, en daar was 12 besighede wat van die putjies met heerlike versnaperinge en lafenisse beman het.
“Die dag was ten bate van Dwaleni Primary School. Ons is nog nie seker van die totale bedrag wat op die dag ingesamel is nie, maar ons is besig om dit uit te werk,” vertel organiseerder Cat Nienaber.
Die datum vir volgende jaar se gholfdag is reeds bespreek en spelers kan Nienaber by 083-375-1741 vir inskrywingvorms skakel.
