Onderhoud met die afrigter – Jimmy Stonehouse
'n Lang 2013-rugbyseisoen, waarvan dit 'n eerste vir die Steval Pumas in die Laeveld is, is hierdie naweek sekerlik op die hoogste noot afgesluit.

Die spelers hou tans vir drie weke vakansie, waarna die harde werk weer op 18
November moet begin. En volgens die afrigter Jimmy Stonehouse, wat bekend is vir
die strawwe voorseisoenprogram, sal daar nie net op die tempo van die spel
gefokus word nie, maar ook op krag, stamina en die belangrikste van alles, om
elkeen se foutfaktor te verlaag.
“In die premierliga is daar geen ruimte vir foute nie. Jy ding mee met die room van Suid-Afrikaanse rugby, en soos die spreekwoord lui: as jy saam met die groot honde wil blaf, moet jy jou stem dik kan maak,” sê Stonehouse.
“Uit die aard van die saak is daar ‘n paar uitdagings vir 2014. Ons sal reeds op 11 Desember ‘n professionele sewesspan inskryf wat as die Titans na George toe sal toer. Daarna is dit vroeg volgende
jaar die Vodacombeker, wat op sigself ‘n uitdaging weens die aangepaste
kwotastelsel gaan wees.
Maar ons sal weereens ons bes doen om die uitspele te
haal en dan is dit die Curriebeker, waar ons nie die slaansakke van die reeks
wil wees nie. Om dit te voorkom, het ons nou meer as ooit die inkoop van
plaaslike besighede nodig. Steval, Gerhard van der Merwe Prokureurs en
Ruggedwear is maar van die vele onmisbare finansiële vennote.
Die waarheid is dat, na die span se sukses en met die wedstrydbonusse van bykans
R50 000 per speler vir die jaar, al die borge se fondse reeds uitgeput is. Dan kyk mens nie eens na die koop van spelers van ‘n hoër vlak nie. Dus is fondse broodnodig.
Ons kort die bystand van die gemeenskap. Kyk net na die atmosfeer van die afgelope
paar weke met slegs 6 500 ondersteuners. Ek glo die spelers het vanjaar meer as
hul deel gedoen om sukses en uitmuntende rugby na Nelspruit toe te bring. Met ‘n
nuwe seisoen kom daar natuurlik nuwe spelers en vyf is reeds gekontrakteer. Daar
is twee nuwe skrumskakels in die groep, Snake Nyoka (Grens Bulhonde) en Oupa
Herbst (SWD Arende), ‘n loskopstut van Boland, Sabelo Nthlapo, die spoedvraat
van die OP Kings, Marcello Sampson en nog ‘n middelveldkragman van die Luiperds,
Hennie Skrobinski.
“Ons is besig om met twee ander Luiperd-spelers te onderhandel. Die span is nou met vakansie, maar met hulle terugkeer, sal daar beslis ‘n spesiale funksie gereël word om die manne behoorlik geluk te wens.”
