Nelspruit se goue seun blaf saam met die groot honde
Die huidige Sanlam Suid-Afrikaanse amateurkampioen, Triston Lawrence (16), het gister (Donderdag) saam met Charl Schwartzel en Scott Jamieson in die eerste ronde van die Suid-Afrikaanse Ope-kampioenskappe wat op die Glendower-gholfbaan in Ekurhuleni plaasvind, gespeel.

Hy het die dag op 35 (een onder baansyfer) afgesluit en lê tans in die 36ste plek op die telbord. ‘n Totaal van 156 spelers ding om die trofee mee.
Triston sou oorspronlik teen Henrik Stenson (37)
speel, maar die Sweed het Maandag weens ‘n gewrigbesering onttrek.
Stenson is
Sondagaand as die wenner van die DP Kampioenskappe in Dubai met ses houe minder
as baansyfer (66), gekroon en is ook die algehele wenner van die reeks, Race to
Dubai. Gerugte dat hy moontlik die SA Ope sou misloop, het verlede week die
media gehaal.
“Dit is jammer dat hy onttrek het. Ek was baie opgewonde om
saam met Henrik in die eerste ronde van die toernooi te speel – ek kan baie by
hom leer,” het Lawrence Dinsdag gesê.
Die Glendower-gholfbaan is vanjaar 78
jaar oud, terwyl dié gesogte toernooi reeds vir 103 jaar aangebied word. Tiger
Woods lê tans eerste op die algehele wêreldranglys, Adam Scott tweede met
Stenson in die derde plek na sy oorwinning die naweek.
Spelers soos
Schwartzel en die voormalige SA Ope-kampioen David Frost is van die bekendes wat
die naweek gaan skouer skuur. Ernie Els, Trevor Immelman, Hennie Otto en
Schwartzel is van die spelers wat die trofee gelig het – dit is enige jong
amateur se droom om met sulke name te kan meeding.
