Atlete neem deel aan geskiedkundige resies
Drie atlete van Komatipoort het op 9 November aan die Athene Marathon in Griekeland, Athene deelgeneem.

Drie atlete van Komatipoort het op 9 November aan die Athene Marathon in Griekeland, Athene deelgeneem. Kitty Maree, asook Tommy en Anneline Webb het weggespring met die Olimpiese vlam wat hoog gebrand het.
Dertig duisend atlete het aan die wedloop deelgeneem. Hulle het in blokke weggespring en dit het elke keer met vuurwerke en balonne gepaard gegaan. Die drie het goed gevaar en dit was vir hulle ‘n wonderlike belewenis. In 490vC is die eerste stryd om demokrasie hier geveg. Hoewel die Persiese leër baie groter as hulle was, het die die burger-soldate van Athene geseëvier.
Die eerste demokrasie kon ingestel word. Die klassieke Griekse leefwyse, wat die grondslag van die Westerse beskawing gevorm het, is hier vasgelê.
Volgens oorlewering het die Atheense boodskapper Phidippides, na afloop van hierdie groot oorwinning, 24 myl na Athene gehardloop om die nuus oor te dra.
Die moderne marathon wat nou plaasvind, herdenk dié groot prestasie.
Die Athene Marathon, wat jaarliks plaasvind, volg die oorspronklike roete en is ook tydens die 2004 Olimpiese Spele gevolg. Die hele roete word op teerpad gedoen. Die eerste 12km is gelyk, terwyl die middelste 19km lang heuwels bevat. Die finale 11km bestaan uit afdraandes.
Die wenstreep is in Athene se pragtige Olimpiese stadion, die geboorteplek van die moderne Olimpiese Spele.
Diegene wat die Athene Marathon hardloop, sê dit is ‘n ervaring wat hulle nooit sal vergeet nie.
