United benodig ondersteuning
Alhoewel Mashishing United die afgelope seisoen hul opponente behoorlik opdraand gegee het, moes dié span die afgelope naweek die knie teen Black Swallows met 3-2 buig.

MASHISHING – Volgens die spanbestuurder, John Mtinkhule, was
die skeidsregter se beslissings nie van ‘n hoë standaard nie en het daar
ongelukkigheid geheers oor die twee strafdoele wat teen Mashishing United
aangeteken is. Mtokozisi Bay en Fabio Eksteen het die twee doele van United
aangeteken. Weens die feit dat baie van hierdie spelers steeds in die skool, en
tans op vakansie is, moes daar van verskeie reserwes gebruik gemaak word.
Die
South African Football Association (Safa) vereis dat ten minste vyf spelers
onder 21 moet wees, maar Mashishing United het ‘n totaal van 18 onder-21
geregistreerde spelers en daar het selfs ‘n 16-jarige op die veld tydens die
naweek se wedstryd uitgedraf. “Hierdie jong spelers het ‘n wonderlike toekoms
wat op hulle wag en ons sal alles in ons vermoë doen om dit te bly ontwikkel.”
Mashishing United speel môre teen Calcata in Hazyview waarna twee tuiswedstryde
op hul wag – die 14de en 16de Desember by die Mashakeng Stadium. Mtinkhule doen
‘n beroep op die gemeenskap om asseblief die span te kom ondersteun en vra dat
persone wat moontlik stewels kan skenk hom by 076-050-4892 sal kontak.
