Oudlid se fut nog nie uit nie
Daar is een ding wat alle sportsoorte in gemeen het, en dit is hardloop. Dit bepaal die tempo in sport.

Dit laat swakkes strompel en maak die vinniges wenners.
Die Nelspruit Marathonklub het Saterdag 23 November hul jaareindfunksie gehad.
Die tema, “Hollywood Red Carpet”, was ‘n geleentheid vir die atlete om bietjie uit te hang en van hul tekkies te vergeet.
‘n Oudlid van die klub, Neville Beeton was die gasspreker.
Hy het in 1977 toe hy 15 jaar oud was, sy eerste ultramarathon (50km) gehardloop.
Daardie jare het dit as die Laeveld-marathon, wat destyds 48km lank was, bekendgestaan.
Dit het in Barberton begin en by die Laeveld Skougrond geëindig.
In Januarie 1982 het Beeton by die klub aangesluit. “Ek het 18 jaar vir dié klub met persoonlike beste tye van 2 minute 31 sekondes in die 1 000m op grasbane gehardloop; 14:58 in die 5000m; 32 minute in die 10km; 154 minute in die 42km; 201 minute in die 56km; 398 minute in die Comrades en 451 oor ‘n afstand van 100km gehardloop.”
Hy spog met ‘n totaal van 251 marathonwedlope wat ultramarathonne insluit.
Deesdae rig hy atlete af en is die klubafrigter vir Breakthru Midrand Striders. “Atlete wat ek afrig, is onder andere die Keniaan Samuel Ongaki wat spog met ‘n tyd van 28 minunte in die 10 000m op die baan en
137 minute in die marathon; die Irene-veteraan Greg Barnes wat 31 minute in die 10km; 138 minute in die marathon en 370 minute in die Comrades hardloop, en Judy Bird wat die Wêreldveterane Vrouekampioenskappe in die 10 en 21km in Nieu-Seeland gewen het.
Sy is nou ‘n meester en was vierde in die onlangse Kaapsehoop 3-1 marathon met ‘n spogtyd van 188 minute.”
Beeton hardloop steeds en het in November die Golden Gate-uitdaging, wat oor drie dae gestrek het, gehardloop. Aan die einde van die jaar gaan hy nog die Lesotho Ultra-Skymarathon (55km) in die Malutiberge aandurf.
Dit vorm deel van sy voorbereiding vir die 70km-Suid-Afrikaanse ultra-padkampioenskappe op 8 Maart 2014.
