Atleet blink uit in hardloop
'n Langasem van die Laeveld, Madeleine Whitehair het vanjaar haar negende Comrades met 'n tyd van agt uur en 45 minute voltooi.

Dit was ‘n week
van gietende reën, hael en selfs sneeu, maar op die dag van die marathon, het
die onuithoudbare hitte dit een van haar ergste wedrenne nóg gemaak. “Dit was
een van die aakligste wedlope nog. Die warrelwinde het atlete amper omgewaai. Ek
het beter tye verwag, maar die weer het hierdie jaar nie saamgespeel nie.”
Whitehair het 12 jaar gelede ernstig begin hardloop en is sedert 2003 lid
van die Nelspruit Marathonklub. By die afgelope jaarlikse prysuitdeling, is sy
as die veteraan- sportvrou van die jaar aangewys.
Vanjaar het sy haar eerste
Suid-Afrikaanse Kampioenskappe voltooi en tweede in die veterane-afdeling
geëindig. Die wedloop het Februarie in Oudtshoorn plaasgevind – sy het met ‘n
tyd van drie uur, 15 minute by vanjaar se Kaapsehoop 3-in-1 Marathon vir dié
gesogte wedloop gekwalifiseer. Sy het by die SA’s haar tyd met twee minute
verbeter en was die enigste vrou van hulle klub wat hiér deelgeneem het.
Sy
het haar beste tyd van die jaar, April in die Elandsvallei-marathon in drie uur,
agt minute, aangeteken, wat ook haar persoonlike beste tyd is. Sy het daarna by
die Loskop Ultramarathon in Middelburg, ‘n silwer medalje verower. Sy het ook in
Maart die PWC-wedloop gewen.
‘n Paar struikelblokke het haar vir vier maande
buite aksie gehou. “Na die Comrades, het ek een na die ander besering opgedoen –
eers in my kuit, daarna het ek ‘n stresfraktuur ontwikkel en ek sukkel tans met
‘n boudspierbesering. Ek moes reeds begin voorberei het vir volgende jaar se
Comrades, maar ek is nog bietjie skrikkerig.”
Terwyl sy langs die kantlyn
gesit het, het sy haarself fiks gehou deur gereeld gimnasium toe te gaan en om
fiets te ry. Haar droom is om naby ‘n silwermedalje by die Comrades te kom. “Ek
wil die doelwit bereik voordat ek te oud raak. Ek moet onder sewe uur en 30
minute hardloop om dit te kan bereik… ek het nog ‘n hele paar minute om op te
verbeter.”
Haar man staan soggens om 04:00 saam met haar op en ry agter haar
aan vir ondersteuning. Tydens die voorbereiding met haar eerste Comrades, is sy
in Steiltes raakgery en het haar ligamente geskeur. Sy het nie klaargemaak nie,
maar sy het nooit ophou hardloop nie.
Tussen Januarie en Mei vanjaar het
Whitehair tussen 1 400 en 1 500km gehardloop, wat op 100km per week uitwerk.
