Local sportSport

‘n Blink toekoms lê vir dié dogter voor

Dié atleet is so goed soos goud. Marné van Aarde het so pas haar laaste dag van kindwees agtergelaat.

Op 15 Januarie stap sy as gr. 8-leerder by Hoërskool Nelspruit in. Waar begin dié joernalis om met die dogter se prestasies te spog?

Marné is die jongste van drie kinders, die laatlammetjie soos haar ma, Amanda sou sê. Sy het meer as 300 trofees in onderskeidelik atletiek, tennis, netbal, hokkie en swem wat sy oor die jare as ‘n leerder van Laerskool Witrivier ingeryg het.

As driejarige, het sy vir die eerste keer haar toontjie in die swembad natgemaak. “Drie jaar later het ek by my eerste byeenkoms prysgeld van R150 gewen en op vyf het ek saam met die gr. 1’s in die interhuisatletiek-byeenkoms deelgeneem, waar ek my eerste glastrofee verower het.”

Sy is reeds twee keer na die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe onderskeidelik in Durban en Sasolburg, waar sy aan vier items deelgeneem het. Vanjaar is sy as die nommer een tennisspeler vir dogters o/13 in Mpumalanga aangewys. Sy is ook gek oor netbal en hokkie.

“Ek is as die tweede gekeurde hulpdoel by vanjaar se netbal SA’s wat in Durban plaasgevind het, gekroon.” Verlede jaar is sy in die Standard Bank-hokkiespan ingesluit vir die interprovinsiale toernooi wat in die Kaap plaasgevind het.

Sy is óók Mpumalanga se eerste gekeurde hokkiespeler. As sy net een van die sportsoorte moes kies? Sy het nie vir een oomblik getwyfel aan dié antwoord nie – hokkie. “Ek is mal daaroor. Dit is ‘n aggressiewe sportsoort.

“Sodra ek met die bal hardloop, gee my opponente voor my pad, veral as ek in die doelhok kom.” Sport is nie haar enigste sterkpunt nie. Sy neem graag aan kulturele aktiwiteite soos koor, redenaars en revue deel en sy blink in akademie uit en het goeie leierskapeienskappe.

By die afgelope prysuitdeling het Marné vyf vaktoekennings gekry én sy is as die duxleerder aangewys met ‘n gemiddel van 92%.

Dié ondervoorsitter van sport het die volgende trofeë ontvang:

• Speler van die jaar – hokkie, netbal, tennis en atleet van die jaar

• Sportdogter

• Duxleerder

• Die hoof se toekenning.

Om ‘n finansiële bydrae te maak, help sy vier uur per dag by McDonald’s Crossing.

“Ek weet ek jaag my ouers baie geld uit die sak uit, en is bereid om te help waar ek kan.” ‘n Matriekleerder in NHS, Liska Botha is haar held. “Sy het ‘n baie goeie hart en is vreeslik oulik.

Ek wil graag haar prestasies nastreef – sy is briljant in sport, akademie en is ook ‘n sterk leier.” As sy nie op die sportveld of voor haar boeke is nie, geniet sy dit om saam met haar twee broers, Marchant en Marius vis te vang.

Sy lê graag voor die televisie waar sy NCIS kyk en sy stel glad soos enige ander jongmens in die sosiale blad, Facebook belang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button