Stoei is sy passie
Stoei is sy passie. Dit het vir hom meer dissipline geleer, sy karakter ontwikkel en hom geleer om nie so bakleierig te wees nie. Stoei is vir Danie Strydom 'n fenominale sport.

Stoei is sy passie. Dit het vir hom meer dissipline geleer, sy karakter
ontwikkel en hom geleer om nie so bakleierig te wees nie. Stoei is vir Danie
Strydom ‘n fenominale sport. Agt jaar gelede is Strydom met ‘n hartdefek
gediagnoseer en kon nie meer kompeterend deelneem nie. Hy is onlangs as die
sportman van die jaar by die Nelspruit Stoei Akademie (NSA) se jaarlikse
prysuitdeling, aangewys.
“Die Here het ‘n ander plan met my gehad. Hy het die
tydperk wat ek buite aksie was, gebruik om my lewe te verander en my heeltemal
te genees.”
Dié 30-jarige het as laerskoolleerder gestoei, maar sy
belangstelling daarin verloor. “Ek het nie op daardie ouderdom oor stoei gedink
soos wat ek nou daaroor dink nie. Ek het eers in matriek besef hoeveel positiewe
dinge stoei my geleer het soos die fisiese ontwikkeling daarvan.”
Strydom het
nooit opgehou hoop om weer te begin stoei nie, dit het in sy agterkop gebly. In
2010 het hy jeugwerk gedoen en besef dat daar ‘n groot tekort aan mentorskap by
seuns is. “Ek het myself oor en oor gevra hoe ek dit kan aanspreek. Ek het ‘n
video op YouTube gekyk wat handel oor ouers wat getuig wat stoei vir hul kinders
beteken en hoe hul kinders, vandat hul begin deelneem het aan die sport, se lewe
verander het. Ek het gebid om ‘n stoeiklub te stig en in Oktober 2012 het ek die
afrigter van NSA, Hansie Kruger ontmoet. Ons deel dieselfde passie vir die sport
en vir die kinders.”
Strydom het teologie aan die Noordwes-Universiteit se
Potchefstroomkampus studeer en wil graag dit wat hy geleer het, aan die seuns
teruggee. “Ek gee my alles en dit is te danke aan die Here.”
Vir Strydom is
dit ‘n voorreg om saam met iemand soos Kruger te kan afrig. Die klub het vroeër
vanjaar sy deure oopgemaak en spog reeds met ses provinsiale stoeiers. “Die
eerste aand het 35 stoeiers opgedaag en ons het maandeliks van krag-tot-krag
gegaan.”
Hy is tans besig om vir die Suid-Afrikaanse Stoei Afrigtingsraad se
proewe voor te berei om span te kry om in Maart in Tunisië aan die Kontinentale
Kampioenskappe te gaan deelneem. Daarna sal hy graag vir die Common Wealth-Spele
wat in Skotland plaasvind kwalifiseer, mits dit die Here se plan vir hom is.
