Kwagga Smith gesels met Steelburger
Min het Kwagga Smith kon droom dat hy eendag in “oom Torros” (Riaan Pretorius) se voetspore sou volg toe hy as klein seuntjie sy oom se spel van die kantlyn af bewonder het. Vandag, 20 jaar later, is Smith een van die spelers wat die beker die afgelope naweek omhoog gehou het na ‘n 17-14-oorwinning …
Min het Kwagga Smith kon droom dat hy eendag in “oom Torros” (Riaan Pretorius) se voetspore sou volg toe hy as klein seuntjie sy oom se spel van die kantlyn af bewonder het. Vandag, 20 jaar later, is Smith een van die spelers wat die beker die afgelope naweek omhoog gehou het na ‘n 17-14-oorwinning teen Nieu-Seeland tydens die Internasionale Rugbyraad se sewestoernooi-finaal.
“Dit was ‘n onbeskryflike gevoel en vir seker ‘n hoogtepunt in my sportloopbaan,” vertel Smith oor sy onlangse Blitsbokdebuut in die Nelson Mandelabaai-stadion. Suid-Afrika het die beker in die Baai verower en kon daarin slaag om koning te kraai nadat die Kiwi’s vier agtereenvolgende jaar dié reeks gedomineer het.
Alhoewel die roete na die halfeindstryd relatief maklik was, moes die Bokke diep delf om met die All Blacks af te reken. Na vyf minute het die Bokke reeds ‘n 14-0 agterstand gehad, maar met volgehoue veggees het Kyle Brown, Blitsbokkaptein, oor die doellyn geduik om die kragmeting te beklink.
Smith het reeds in die halfeindstryd teen Argentinië gewys dat sy bedrieglike spoed en spierkrag van ontskatbare waarde vir die span is en sy eerste drie as Blitsbok gevier toe hy in die halfeindstryd oor die doellyn duik.
Dié Lydenburger se rugbyloopbaan het begin toe hy as laerskoollkannetjie sy eerste tree op die velde van Laerskool Lydenburg gegee het, rugbybal in die een hand en gedrewenheid in die ander.
“Ek is in Lydenburg gebore en het op die plaas grootgeword. Dit is hier waar my rugbyloopbaan begin het saam met briljante afrigters en vriende,” vertel hy. Hy het reeds o/12 asook o/13 vir die Pumas uitgedraf en dit was duidelik dat ‘n opwindende toekoms op hom wag. Smith het sy hoërskoolloopbaan in HTS Middelburg voortgesit.
“Ek het hier my groot liefde vir rugby ontwikkel,” vertel hy en noem die mylpale een vir een op. “Toe ek 16 was, is ek gekies vir die o/16-Puma-span en op 17-jarige ouderdom het die o/18 Pumas Cravenweek ‘n realiteit geword.”
Die volgende jaar is Smith weer vir die o/18’s gekies, dié keer vir die sewes sowel as die 15-manspan. “Alhoewel ek eendag graag my droom wil verwesenlik om vir die Springbok-15-tal uit te draf, is my grootste droom om maar net ‘n voorbeeld te wees vir elkeen wat na my opkyk.” Smith het op sy hoërskoolfondasie voortgebou en is as die Leeus se o/19 Curriebekerspeler van die jaar aangewys en ook verkies vir die SA o/20 Junior Springbokspan.
“Alles was maar ‘n pad van kleintyd af wat die Here vir my uitgelê het,” sê Smith nederig. Hy vertel dat daar al baie teleurstellings was, maar ook baie hoogtepunte in sy rugbyloopbaan en verduidelik dat een van die grootste uitdagings om professioneel te speel waarskynlik is om op vorm te kom en dan daar te bly.
“Die geheim van ‘n goeie rugbyspeler is om altyd daarna te streef om tot die beste van jou vermoë te speel, om altyd op standaard te bly en om jou drome te volg.”
Smith wil graag na sy rugbyloopbaan weer na die plaas terugkeer – die plek wat aan hom die bynaam “Kwagga” besorg het. Hy vertel dat daar die aand van sy geboorte ‘n Duitser op sy ouma se wildsplaas, Spekboom River Lodge, gekuier het en dat dié sy tweejarige boetie, Willem Smith, nader geroep het en gevra het wat is sy nuwe boetie se naam.
“Hy het op daardie stadium net diere se name geken en al waaraan hy kon dink was “Kwagga”. Sederdien het die naam gebly en bittermin mense weet vandag dat dié kranige rugbyspeler se naam eintlik Albert is. Hy bedank graag sy ouers en meisie, Ilke de Haas, sowel as haar ouers vir alles wat hulle vir hom doen. “Dankie dat julle altyd daar is vir my.”


