Groot drag slae vir Limpopo Blou Bulle
Alhoewel die 88-0-telling baie indrukwekkend op papier gelyk het, was die pienktruie se spelpyl nie deurentyd op hoë standaard nie.
Die Assupol Limpopo Blou Bulle is vir die tweede agtereenvolgende jaar die slaansak in die Vodacombeker-reeks. Waarom die groter unies nie dié span met hul groep gekontrakteerde o/21-spelers uithelp nie, sal geen mens weet nie. Die afgelope naweek het hierdie manne hul grootste drag slae nog vanjaar by die Steval Pumas gekry. Soos verlede jaar het die Stonehouse-troepe daarin geslaag om die tuisspan met hul spel te oorweldig.
Alhoewel die 88-0-telling baie indrukwekkend op papier gelyk het, was die pienktruie se spelpyl nie deurentyd op hoë standaard nie. “Wedstryde teen sulke opkomende spanne is altyd baie moeilik. Spelers is geneig om nie by die struktuur van die wedstrydplan te hou nie en sukkel om gefokus te bly, want dit is eenvoudig net te maklik om punte aan te teken. Die geheim by dié tipe wedstryde is om by die basiese te hou, als reg uit te voer en die punte sal vanself kom, veral as mens nog ‘n 100-tal wil jaag,” het die breier, Jimmy Stonehouse verduidelik.
Daar is altesaam 14 keer agter die doellyn gaan kuier, met Ashwin Scott wat sy terugkeer na die veld met ‘n driekuns gevier het. Jaco Bouwer het twee drieë gedruk met sy voorspelers Frankie Herne, DeJay Terblanché, Doppies le Roux en Rudi Mathee wat saam met die spoedvrate Bernado Botha, Dewald Pretorius, Hennie Skorbinski, Johan Pretorius en Pule Sibiya elk vyfpunters behaal het. Justin van Staden kon slegs vyf hiervan verdoel met Johan Pretorius drie en Bernado Botha ook een. Van Staden het met vyf van sy pogings pale toe gesukkel, wat die telling oor die 100-tal sou gestoot het, en dan is ‘n drie van Brian Shabangu ook nie toegeken nie, na hy in die doelgebied opgehou is.
Die komende naweek se kragmeting teen die Luiperds is egter vir die Steval Pumas van kardinale belang. Dié uitslag sal bepaal of die manne ‘n tuiskwarteind sal hê. Om die Vodacombeker-reeks se doelwit van “neem die wedstryde na die mense” te eerbiedig sal dié stryd egter by Middelburg se Kees Taljaard Stadion gespeel word met hope voorwedstryde wat die rugbyfees sal open.
