BHS laat Sybrand klippe kou op die sportveld
Hoërskool Barberton se wintersportkragmeting teen Sybrand van Niekerk van Sabie het Saterdag op hul tuisveld plaasgevind en het uitmuntende rugby, hokkie en netbal opgelewer.

Afrigters van die o/14-rugbyspan, Charlie Jackson en Gerrit van Zyl, kan met reg trots wees op hierdie span. Hulle het Sybrand met 42-0 geklop en spelers van die wedstryd was Martinus Venter en Jeandré Jooste.
Die groot wedstryd van die dag was dié van die Total Signs eerste span en hulle het nie teleurgestel nie. Hulle het ook as oorwinnaars met ‘n puntetelling van 41-19 van die veld gestap. Spelers van die wedstryd was Zweli Silaule en Beki Shongwe en hul afrigters was ChrisEngelbrecht en Jaun Pieterse. Beide spanne het met hierdie oorwinnings gekwalifiseer om aan die Beeld-trofee vir mediumskole deel te neem. BHS se tweede span het ook met 20-12 gewen.
Die eerste netbalspan het met ‘n wen van 11-7 geëindig en die speler van die wedstryd was Ayanda Band. Die o/16’s het uitstekend gevaar met ‘n wen van 28-6 en speler van die wedstryd was Lexi Pohl. Die o/15’s het ook met 14-5 gewen. Hier was die speler van die wedstryd Siphelele Sithole.
Die hokkie se o/14 A’s het met 3-1 geseëvier en die speler van die wedstryd was Shaanlee Putter. Die o/15’s, wat ook gewen het, se telling was 2-1 met speler van die wedstryd Leandri Opperman.
Nog wenne was Ford se eerste span met 4-0 en die tweede span met 8-0. Spelers van die wedstryde was onderskeidelik Megan du Plessis en Prenita Sanderson.
