Kampioen verdedig sy titel suksesvol
Die verdedigende kampioen in die York Enduro-bergfietswedren, Franco Pelser het aan sy eerste plek geklou om wéér vanjaar die 40km-afdeling te wen.

Die baan was vanjaar effens langer as gewoonlik. Die 16-jarige van Hoërskool Rob Ferreira het gemaklik die eerste plek met 02:00:18 verower terwyl Jaco du Toit eers ‘n minuut later die tweede plek ingeneem het.
Met sy Giant XCT Advance, het hy die afgelope naweek aan die derde ronde van die SPUR Skolereeks wat by Mankele plaasgevind het, deelgeneem. Franco het hier eerste in die junior afdeling met 00:50:14 geëindig.
Die baan het uit vyf skofte van 4,3km elk bestaan. “Blessing Moima van Hoërskool Lydenburg het my respek die naweek gewen – hy het ongelooflike uithouvermoë.
“Ek het die naweek gesukkel, maar Blessing het my hard laat werk. My tegniese vaardighede en klim is tans baie goed, maar ek sal moet werk om beter op die gelyk oppervlaktes te vaar.”
Hy het aan sy eerste wedren, óók die SPUR-reeks as 13-jarige groentjie deelgeneem en laaste in sy afdeling gekom. “Ek het my eerste podiumplek in 2012 by die Das Auto-reeks verower.”
Franco het Mpumalanga-kleure in 2013 en weer vanjaar gekry nadat hy die topposisie as junior in Mpumalanga beklee het. Die volgende wedren waarvoor meeste fietsryers oefen, die Suid-Afrikaanse skolekampioenskappe, vind vroeg in Oktober in Magaliesburg, Pretoria plaas. “Verlede jaar het ek tweede gekom, maar vanjaar gaan beslis meer uitdagend wees. Ek is een van die jongste ryers in my kategorie en daarom moet ek teen meer ervare
ryers meeding.”
Ondanks dié feit, sal hy graag in die top drie wil eindig. Sy grootste kompetisie op nasionale vlak is die Bloemfonteiner, Mark Fourie van Grey College. Martin Oosthuizen en Ryan Clarke is ook manne wat sterk kompetisie vir Franco is.
Die rede waarom lesers van die bergfietsryer moet kennis neem, is omdat hy graag aan ander wil bewys dat niks sonder die Here moontlik is nie.
“Ek hou daarvan om Sy visie uit te leef. Sonder Hom sal ek niks met my fiestry kan bereik nie.”
