School sportSport

Jong ruiters skrik nie vir hoogtes

Twee plaaslike skoolkinders het onlangs aan die Suid-Afrikaanse Junior Kampioenskappe deelgeneem op die hoogste hoogte waaroor 'n perd by 'n skou spring.

‘n Hoogte van 1,3m is nogal aansienlik besef ‘n mens wanneer jy langs ‘n hindernis staan en die dwarspaal kom tot by jou skouer. Dit sit perderuiters egter glad nie af nie, selfs nie al is hulle hoe jonk nie.

Twee plaaslike skoolkinders het onlangs aan die Suid-Afrikaanse Junior Kampioenskappe deelgeneem op die hoogste hoogte van 1,3 meter.
Hanelize Kamffer (14) en Nadia Breytenbach (17) het verlede maand vir vyf dae lank by Maple Ridge in Krugersdorp gekompiteer. Volgens haar ma en afrigter, Kraai Kamffer du Preez van Nottinghill Equestrian Centre, is Hanelize een van die jongste junior ruiters wat op hierdie hoogte deelneem.

IMG_6638

Sy verduidelik dat dit ‘n moeilike sport is. “Dis ‘n kind en ‘n perd, twee verskillende entiteite. Die perd en ruiter moet ‘n sterk vertrouensband hê om op hierdie hoogte deel te neem aangesien dit baie balans, presisie en durf verg.”

Hanelize, ‘n Hoërskool Rob Ferreira-leerder, het vyfde, 12de en 14de plekke uit 86 ruiters in elke klas behaal. Nadia, van Penryn Prep, het agste in ruiterkuns gekom. Algeheel het die Mpumalanga en Noordwes-span derde op hierdie hoogte geëindig.

Volgens Kamffer Du Preez neem dit maklik ses jaar om ‘n perd op te lei om 1,3 meter te kan spring. Hulle begin op 60cm en na tien skoon rondes by kompetisies kan hulle opbeweeg na die volgende hoogte. Sy sê Hanelize oefen maklik 12 uur per week en die perde benodig spesiale opleiding – soos gimnaste. Hulle kry fisioterapie, het ‘n spesiale dieet en kort elke ses weke nuwe hoefysters.

IMG_6562

Hierdie naweek is dan ook die nasionale skolebyeenkoms. Hanelize sal dit misloop omdat Midday Heat, die perd waarmee sy daarvoor gekwalifiseer het, beseer is (by die Suid-Afrikaanse Nasionale Perderuiter Skolevereeniging se byeenkoms mag ‘n ruiter nie met ‘n ander perd deeleem nie). En ja, haar hart is baie seer daaroor, veral omdat dit die eerste keer is dat sy op 1,30 meter sou deelneem.

Nadia en The Capitalist sal egter daar wees. Sy vertel sy is glad nie op haar senuwees nie – sy benader dit bloot as nog ‘n groot skou. “Ek doen altyd net my beste en probeer doen wat ek by die vorige skou geleer het. As ek op my senuwees is affekteer dit die perd. Dit eindig nooit goed nie.”

Die ander ruiters van Nottinghill wat die naweek die provinsie sal verteenwoordig is Robyn Manktelow, Marie du Toit (albei in die 90cm klas) en Erin Kenyon (1,1 meter).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button