Dié naam kan jy gerus neerskryf en op jou yskas plak
Negatiewe op- en aanmerkings sit dié swemmer nie sommer af nie. Inteendeel, dit inspireer haar.

‘n Twintigjarige swemmer van Mbombela, Christelle Kriel, verskyn op die wêreldranglys in klas S14 vir atlete met leergestremdhede waar sy tans die rekordhouer in die 200m-rugslag is. Sy is óók vir die oefengroep van die 2016 Rio de Janeiro Paralimpiese Spele gekies.
Sedert sy in Maart by Uniswim, by die gerekende afrigter, Detlef Schmitz begin swem het, is sy agt kilogram ligter en het haar tye geweldig verbeter.
“Met die 200m vryslag het ek my tyd met 12 sekondes en die 100m vlinderslag met 20 sekondes verbeter. Ek is bitter trots op myself.”
Sy het al twee keer Suid-Afrika by die Sasa se nasionale kampioenskappe verteenwoordig. Die eerste keer was in 2011 toe sy na Italië getoer het en sy was verlede jaar saam met die span na Noumea in New Caledonia. Hier het sy medaljes in die 400m vry- en 200m rugslag losgeslaan. Kriel is onlangs gekies om na Ecuador vir die Wêreldspele te toer. “My droom is om ten volle in drie items (200m wissel- en vryslag en 100m rugslag) vir die spele te kwalifiseer. Ek het reeds B-kwalifiserende tye geswem en ek glo ek sal in al drie items volgende jaar by die senior nasionale kampioenskappe in Durban die tye swem.” Dit vind tydens April in Durban plaas. Verlede jaar het Kriel haar swemdroom in die Kaap beoefen, maar haar afrigter is skielik oorlede.
“Ons het aan die begin van die jaar sonder ‘n afrigter gesit. Ons is aangeraai om aan Detlef se deur te gaan klop en ons is nog nie een dag spyt nie. Sy werk baie hard en het groot waardering vir haar afrigter,” vertel Kriel se ma, Madelein.
“Dié twee het na my toe aangestap gekom. Ek het vir Christelle een kyk gegee en
gesê sy moet blitsvinnig gewig verloor. Na vyf maande lyk sy soos ‘n model: sy is fiksser en sy swem uitstekende tye.
“Ek sien haar nie as ‘n swemmer met ‘n gestremdheid nie. Sy oefen saam met al die ander,” aldus Schmitz.
Christelle se ander groot droom is om ‘n motiveringsspreker te word. “Ek wil kinders vertel dat ‘n slegte begin nie noodwendig die einde is nie, maar dat jy jou eie sterkpunte moet ontdek en uitbou.
“Kyk byvoorbeeld na Natalie du Toit – sy is gedetermineerd en ek wil ook soos sy wees.”
