Plaaslike krieketklub klop Mosambiek in rillerstryd
Die druk het te veel vir die Mosambiekers geword en hul kon nie die nodige nege lopies van die laaste boulbeurt slaan nie.
Wat soos ‘n gemaklike oorwinning vir Nelspruit Krieketklub gelyk het, het in ‘n naelbytstryd ontaard toe hul die buiteperde, Mosambiek, met vyf lopies by Hoërskool Bergvlam se krieketveld op 1 November geklop het.
Nelspruit het eerste gekolf en ‘n oortuigende 264/6 in 40 boulbeurte aangeteken.
Die openingskolwer, Peter Sheppeard het 71 lopies bygedra, terwyl Shawn Cross ‘n onoorwonne 76 gemoker het. Cross het agt viere en ‘n ses geslaan en Nelspruit se middelorde stabiel gehou.
Helder Guambe was Mosambiek se beste boulder en het beïndruk met 2-36 in agt boulbeurte. Na ‘n pouse was dit Mosambiek se beurt om Nelspruit se stewige totaal te bereik.
Hulle het ‘n terugslag beleef toe Peet Welthagen vir Benjamin Macovele vir ‘n nulletjie uitgeboender het. Francisco Couen het toe saam met sy kaptein, Kaleem Shah die voortou geneem en Mosambiek in ‘n baie sterk posisie geplaas.
Na 11 boulbeute het hulle 77/2 gehaal nadat hul vir Lourens “Lappies” Labuschagne geteiken het en 44 lopies van sy drie boulbeurte gemoker het.
Arno “Mielie” Gie se draaibalwerk en Riaan van der Merwe se swaaiballe het Mosambiek effens in hul spore laat trap en die lopietempo weer laat normaliseer.
Nelspruit het met die eerste aflewering na die kort pouse, Shah se paaltjie geneem nadat hy wild na ‘n bal geswaai het, en altans ‘n suiwer konneksie slegs daarin geslaag het om die bal na veldwerkers vir ‘n maklike vangskoot te stuur.
Die emosielose uitdrukking op die kaptein se gesig het boekdele gespreek. Met Couen by die penne het Mosambiek ‘n goeie kans gehad om die oorwinning deur te trek met Horacio Muaingu wat met ‘n vinnige 22 lopies tot Mosambiek se telling bygedra het.
Shawn Cross het toe die deurslaggewende paaltjie geneem toe hy Couen van sy eie boulwerk gevang het vir 87. Op daardie stadium het Mosambiek 72 lopies van 66 balle nodig gehad met vyf paatjies oor.
Die druk het te veel vir die Mosambiekers geword en hul kon nie die nodige nege lopies van die laaste boulbeurt slaan nie. Nelspruit se bouler, Johan Coetser, het die druk briljant beheer en met ‘n paaltjie en nog ‘n uithardloopkans die besoekers tot vier lopies beperk wat Nelspruit ‘n senutergende oorwinning gegee het.
