Laerskool Numbi-spanne vaar skitterend tydens wintersport-kragmetings
Die wintersportseisoen is al volstoom aan die gang en Laerskool Numbi se rugby- en netbalspelers vaar sover uitstekend.
Op 8 Mei het die skool as gasheer vir ‘n mini-rugby- en netbaltoernooi teen Komatipoort Akademie opgetree. Daar het groot opgewondenheid onder die o/11-, o/12- en o/13-rugbyspanne, asook die o/9-, 0/11- en o/13-netbalspanne wat deelgeneem het, geheers. Die spelers het baie pret gehad en goeie ondervinding opgedoen.
Numbi het uitstekend gevaar en ‘n hele paar wenners opgelewer.
Kyk na ‘n paar foto’s van die geleentheid hier.
Die skool het op 16 Mei weer ‘n toernooi aangebied en het teen Laerskool Lydenburg, St Peter’s, Laerskool Malelane en Laerskool Sabie te staan gekom. Hierdie keer was dit die gr. 1- tot 3-netbalspanne en gr. R- tot 2-rugbyspanne wat mekaar die stryd aangesê het.
Die toernooi is ‘n goeie manier vir jong spelers om gewoond te raak aan formele spel en die druk wat daarmee gepaardgaan. Dit help ook met die ontwikkeling van die sport aangesien die spelers die reëls van kleins af leer ken.
Laerskool Numbi wil graag elke ouer en leerling bedank vir hul ondersteuning en bydraes, asook die onderwysers vir hul toewyding wat die dag ‘n groot sukses gemaak het.
Die res van die kwartaal beloof om net so aksiebelaaid te wees, met verskeie liga-wedstryde en toernooie wat nog voorlê. Hou gerus die skool se Facebookblad dop vir datums en programme.
