Local sportSport

Jong vyfkampatleet is nou ‘n Springbok

"Dit is definitief my grootste prestasie."

Dit neem harde werk, motivering en baie talent om Springbokkleure in enige sport te verower. Vir die voormalige Laevelder, Pietie Oosthuizen, het dit slegs een en ‘n half jaar geneem om die vyfkampdissipline sy eie te maak en Springbokkleure daarin te verwerf. Pietie het verlede naweek aan die nasionale kampioenskappe in Stellenbosch deelgeneem en genoeg punte behaal om Springbokkleure te dra.

Die moderne vyfkamp sluit swem, skermkuns, perdry, skiet en hardloop in, wat elkeen ‘n uitdaging op sigself is.

“Aan die begin van die seisoen het ek nie gedink ek sal dit kan vermag nie, maar ek het hard gewerk en vinnig agtergekom dat ek dit sou kon maak as ek goed vaar in die SA Kampioenskappe.

“Dit is definitief my grootste prestasie,” het Pietie opgewonde vertel.

Pietie moes 1 042 punte met vier van die vyf items, wat perdry uitgesluit het, behaal om kleure te kry. Hy het met ‘n algehele puntetelling van 1 049 geëindig ná ‘n uitstekende vertoning in die meeste van die dissiplines.

In die perdspringafdeling het Pietie wel volpunte behaal, maar dit het nie tot die algehele puntetotaal vir Springbokkleure bygedra nie.

Die gekombineerde item (hardloop en skiet) het op Coetzenburg plaasgevind.

Die gekombineerde item bestaan uit 4×800-meterhardloop sowel as 4×10-meter laser-pistoolskiet.

Volgens Pietie is dit belangrik om goed te skiet omdat ‘n mens baie tyd kan inhaal.

“Jy hardloop na jou skietstasie toe en probeer so vinnig as moontlik die teiken vyf keer in die kol raakskiet, waarna jy dan 800m mag hardloop.

“Hoe vinniger jy skiet, hoe gouer kan jy hardloop. Indien jy nie al vyf kan afskiet nie, het jy net 50 sekondes dan moet jy hardloop,” het hy verduidelik.

”n Mens skerm teen elke liewe deelnemer in die kategorie maar ‘n mens kan slegs een punt/per persoon kry. Met ander woorde, as jy die ou eenkeer raaksteek, het jy klaar teen hom geskerm en beweeg jy aan. Dit maak dit egter baie ingewikkeld en toeval maak ‘n groot deel van skerm uit,” het hy genoem.

Volgens Pietie is al die deelnemers se skermkunsvlak verskriklik goed aangesien hulle die sport al vir ‘n klompie jare beoefen.

Sy pa is sy grootste ondersteuner en die persoon wat hom ook gedurig motiveer.

“My pa was juis ook ‘n groot sportman en hy het nog nooit ‘n wedloop of wedstryd van my gemis nie. My familie, vriende en afrigters ondersteun my ook altyd.”

Volgens hom het Charl Naudé, sy destydse atletiekafrigter by Hoërskool Nelspruit, sy potensiaal vir middelafstand geïdentifiseer.

Pietie noem ook dat hy meer titels wil inpalm en sy rang as vyfkampatleet wil verbeter.

“Ek het die jaar nog die vyfkamp- junior wêreldkampioenskappe waar ek onder die eerste 30 wil eindig. Die kompetisie is wel baie straf,” vertel hy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button