Swak afronding en dissipline lei tot gelykop-uitslag
Onderwyl die Garnaalfees in volle swang was, het die Impalas Saterdag op Komatipoort Akademie se veld teen Ohrigstad gelykop gespeel.
Komati het deurentyd die oorhand gehad, maar kon net nie afrond nie. Beide spanne het gebrek aan dissipline getoon. Daar is ook geen drie gedurende die wedstryd gedruk nie. Teen halftyd het Komati met nege punte teenoor ses voorgeloop. Chris Botha het twee strafskoppe en een skepskop deur die pale gestuur en Ohrigstad het twee strafskoppe aangeteken. In die tweede helfte het Botha nog ‘n strafskop oorgesit, terwyl die besoekers twee strafskoppe deur die pale gestuur het. Die wedstryd het uiteindelik met 12 elk geëindig.
Komatipoort se Impalas is egter nog steeds boaan die punteleer. Dit was die laaste van die ligawedstryde. Uitspeelwedstryde sal binnekort begin.

