Local sportSport

Pragtennis by Laeveld-ope

Alhoewel daar amper 80 minder inskrywings as verlede jaar was, het die Laeveld se sterspelers steeds in groot getalle opgedaag.

‘n Hele paar plaaslike tennisspelers het hand by die jaarlikse Laeveld-ope opgesteek. Dié toernooi het wéér spelers van Gauteng, Mosambiek en ook die Vrystaat gelok.

Alhoewel daar amper 80 minder inskrywings as verlede jaar was, het die Laeveld se sterspelers steeds in groot getalle opgedaag. “Dit kan toegeskryf word aan die groot onkostes wat spelers moet aangaan om hier te kom asook verblyfkostes. Die toernooi het eger weer baie mooi tennis opgelewer en vir ons plaaslike spelers ‘n geleentheid gegee om teen die groter provinsies kragte te meet,” verduidelik die voorsitter van Ehlanzeni Tennis, Leatitia Fourie.

Dié uitslae word gebruik om die spelers op provinsiale en nasionale vlak te bepaal.

Die o/10-dogtersgroep se Arili Boshoff en Lize Oosthuizen het mekaar in die uitkloprondes ontmoet, en wat ‘n stryd was dít nie! Dié twee het mekaar vir langer as drie uur die stryd aangesê met Arili wat op die ou einde koning gekraai het. In die dubbelspel het sy weer met Lize afgereken om so ook as die o/10-dubbelskampioen gekroon te word. Richard Dickson, seuns o/10 het derde geëindig.

By die o/12-seuns en -dogters was die besoekers ongelukkig te sterk vir plaaslike spelers en kon hulle nie in die enkels of die dubbels onder die top eindig nie.

Clarissa Boshoff het die dogters o/14’s se naam hoog gehou en in die eindstryd met Anicka Janse van Rensburg van Pretoria 6-0 en 6-4 afgereken. Clarissa het ook die dubbelspel saam met Simoné Stapelberg van Piet Retief gewen.

Marco Knobel moes die spit in die eindstryd teen Martin Dijkhuis van Johannesburg afbyt en het 6-0 en 6-1 verloor. Callan Kenyon en Martin het die dubbels teen Jacques Beukes van Pretoria en Jean Beukes van Ermelo 6-2 en 6-0 gewen.

Twee van die Laeveld se o/18-dogters, Jannete Booysen en Anneri Mans het podiumplekke verower. Janet het ‘n tweede plek gekry nadat sy teen Carla Venter van die Vrystaat 6-2 en 6-0 die knie moes buig. Anneri het ‘n derde plek in die eindstryd verower. Sy en Carla was saam in die dubbels groepeer en het die stryd gewen.

Die interdistriktespanne is reeds vasgemaak. Die spanne in elke ouderdomsgroep vir seuns en dogters bestaan uit vier meriete en twee ontwikkelingspelers.

Daar is wel nog twee plekke oop vir ontwikkelingspelers by seuns-o/11 en een dogter by die o/13’s.

Die interdistrikte vind vanjaar in Mbombela van 28 tot 30 Augustus plaas en is die hoogtepunt op die junior-tenniskalender in Mpumalanga.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button