Uplands buig die knie teen LHS op die hokkieveld
Lowveld High School (LHS) se o/17-dogtershokkiespan het hul aardsvyande, Uplands College verlede week 3-2 in die Curro Nelspruit-seweshokkiereeks geklop.

Met die opbou na die eindstryd, het LHS nege uit die 10 wedstryde gewen waar die einste Uplands dié span in die derde ronde 2-0 gewen het.
Die wenners het in totaal 29 doele aangeteken en net ses afgestaan.
LHS het reeds teen rustyd die oorhand gehad met Mandisa Sigudla wat die eerste doel gemoker het. Kort voor rustyd het Marlene Masvikeni nóg ‘n bal in die doelhok geslaan.
Uplands het in die tweede 10 minute die telling geëwenaar. Dit was in die laaste vyf sekondes van die naelbytstryd dat Hope Nkosi die bal van Wandi Mawela ontvang het om sodoende Uplands se doppie finaal te klink.
“Die laaste twee minute was intens en albei spanne het hard geveg om die wedstryd te wen,” het die afrigter van LHS, Chris de Klerk, gesê.
Nkosi het die trofee vir senior speler van die toernooi verower terwyl Hoërskool Nelspruit (NHS) se Marné van Aarde as die junior speler aangewys is.
Die junior span van Hoërskool Nelspruit het in die eindstryd die gasheerskool maklik 5-0 gewen en is as die o/15’s kampioene gekroon. NHS het in die tweede ronde teen Curro 0-3 verloor, maar met vinnige spel in die laaste wedstryd het hulle die nommer- twee gekeurde span op die punteleer verslaan.
Jana Visser het die meeste doele (15) in die toernooi aangeteken.
“Ons strategie was om solank as moontlik balbesit te behou, en goeie kommunikasie. Ons het probeer om ten alle tye die bal te laat werk en so min as moontlik te hardloop,” het die afrigter van NHS, Franché Beukes, gesê.
In die ander wedstryde het NHS se o/17’s met ‘n welverdiende wen van 5-0 teen Bergvlam derde geëindig en die o/15’s van Uplands het Penryn 2-1 geklop.
Puntestand
O/15’s
NHS – 16
Curro – 15
Uplands – 9
Penryn – 6
Lowveld High – 4
Bergvlam – 4.
O/17’s
Lowveld High – 16
Uplands – 11
Nelspruit – 11
Bergvlam – 9
Curro – 5
Penryn – 4.










































