Pumas steeds hoopvol vir plek in top vier
"Dit is baie moeilik om ons vinger presies op dit te sit wat fout gegaan het. Ons het nie gedink dit gaan 'n maklike wedstryd wees nie. Daardie lustelose vertoning van sommige spelers het ons die wedstryd gekos."

Die breier van die Steval Pumas, MJ Mentz het van sy sleutelspelers uitgelaat vir vanaand se Absa Curriebeker-kragmeting op Mbombela Stadion teen die OP Kings. Dit nadat die Laevelders lelik teen die Griekwas met 31-15 vasgeval het.
Die haker, Francois du Toit, agterspeler Deon Helberg en die stut Khwezi Mona is nie vir die sewende ronde oorweeg nie.
“Swys (Francois) het ongelukkig die prys betaal vir baie swak ingooiwerk in die lynstane en iemand moet die verantwoordelikheid daarvoor dra. Dieselfde geld vir Giant (Mtyanda). Sy werksetiek is nie wat dit moet wees nie, maar hy is ‘n groot faktor in die lynstane en daarom het ons op Marius Coetzer besluit wat beheer van die lynstane vat.” Mentz sê verder dat Helberg ‘n middelmatige wedstryd teen die Poubloues gehad het.
Mona dra die gevolge van die aantal strafskoppe wat hy by die skrums deur die loop van die seisoen afgestaan het. Die voormalige o/20-Springbok, Marné Coetzee kan dalk sy debuut vir die Pumas maak. “Die skeidsregters doen hulle huiswerk en hy (Mona) het die reputasie gekry dat sy bind- en voetwerk nie reg is nie. Marné is ‘n strerk skrummer en kan moontlik ‘n kans op die veld kry.”
Stefan Watermeyer is weer die kaptein en Mentz sê dat sy leierskap in Saterdag se wedstryd gemis is. Faf de Klerk behaal ‘n groot mylpaal vanaand wanneer hy in sy 50ste wedstryd vir die Pienktruie speel. “Hy is baie opgewonde, maar ek dink nie op die stadium gaan dit vir ons oor persoonlike prestasies nie. Hy is gefokus om sy beste wedstryd vir die Pumas te speel en ons is baie trots op hom. Hy het al diep spore hier getrap.”
Alhoewel die Pumas derde laaste op die punteleer lê, is Mentz steeds positief vir ‘n plek in die top vier. “Ons is nie uit die prentjie uit nie. Ons is steeds binne bereik van ons doelwit. Ons het van die begin af gesê dit is waar ons wil eindig. Ons het nie onsself ‘n guns gedoen om die naweek te verloor nie, maar ons besef die Kings en die Griekwas is op ons hakke. Elke wedstryd van hier af is soos om in ‘n eindstryd te speel.”
Die Pumas het vier wedstryde oor waarvan drie tuis is. “Elke speler besef hoe belangrik die volgende drie wedstryde is. Die Kings kom met selfvetroue maar ons weet wat om van hulle te verwag. Ons gaan net op alle fasette van ons spel moet verbeter. Ons wedstryd van vanaand mag dalk verskil van dit wat ons die seisoen gedoen het.”
Pumas
1. Corné Fourie
2. Frank Herne
3. Vincent Koch
4. Giant Mtyanda
5. Marius Coetzer
6. Marnus Schoeman
7. Jaco Bouwer
8. Jason-Colin Frasier
9. Faf de Klerk
10. Justin van Staden
11. Rosko Speckman
12. Stefan Watermeyer
13. Wilmaure Louw
14. Jerome Pretorius
15. Hoffmann Maritz.
Plaasvervangers
16. Simon Westraad
17. Marné Coetzee
18. Jannie Stander
19. Uzair Cassiem
20. Reynier van Rooyen
21. Hennie Skorbinski
22. Marcello Sampson.
