Local sportSport

Sit joú voet neer teen kindermishandeling

Om 'n bydrae te tot Childline te lewer, deel bloot jou oefensessies op Facebook of Instagram onder die hutsmerke: #childline; #disekannafilm en #sitjouvoetneer

Sit jou voet neer teen kindermishandeling! Dit verg bloed en sweet om vir ‘n marathon voor te berei en hardlopers spog graag op sosiale media met die aantal kilometers wat hulle daagliks aflê. Hulle kan dit nou boonop vir ‘n goeie doel doen.

Met elke kilometer wat jy tot en met 23 Oktober hardloop, kan jy R1 vir Childline insamel. Vervaardigers van die rolprent Dis ek, Anna, Film Run en 365ICT Limited het kragte saamgespan om fondse in te samel vir dié nie-winsgewende organisasie wat hom beywer teen kindermishandeling.

Charlene Brouwer vertolk die rol van die volwasse Anna in dié omspraakwekkende rolprent wat handel oor ‘n meisie wat van kleins af deur haar stiefpa verkrag word. Dit is gegrond op die blitsverkoper-roman deur die skrywer Anchien Troskie, met dieselfde titel.

Charlene is onlangs met die vervaardiger van dié rolprent, Niel van Deventer, getroud. Beide is passievol oor liefdadigheid en het gevoel hulle moet iets bykomend doen vir ‘n organisasie wat met mishandelde kinders werk.

Charlene is ‘n ywerige en passievolle hardloper en het besluit om dié groot liefde van haar in te span om geld vir Childline in te samel. Hulle het haar swaer en skoonsuster in Engeland, Marinus en Sandy van Deventer, genader omdat liefdadigheid ook húlle na aan die hart lê. Dié egpaar het toe 365ICT Limited genader en hulle het ingestem om R1 per kilometer, tot en met 10 000km, te borg.

Die meeste hardlopers hou deesdae boek van hulle kilometers met programme soos Endomondo of Strava. Om ‘n bydrae te tot Childline te lewer, deel bloot jou oefensessies op Facebook of Instagram onder die hutsmerke: #childline; #disekannafilm en #sitjouvoetneer.

Die aantal hutsmerke sal dan teen die einde van volgende Vrydag 23 Oktober, wanneer Dis ek, Anna landswyd in rolprentteaters sal open, bymekaar gevoeg en die aantal kilometers opgetel word.

“Ons beplan om ander maatskappye ook te nader om betrokke te raak soos ons die 10 000km-merk nader,” het Charlene opgewonde vertel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button