Skopboksers berei vir proewe voor om keurders te beïndruk
Plaaslike skopboksers het op 17 Oktober goeie oefening vir die provinsiale proewe by 'n opelug-skopboksgeleentheid in Barberton gekry.

Daar was 16 gevegte en drie van Witrivier se lede het in die kryt koning gekraai: Francois Botha, Junior de Beer en Elmarie Cornelius.
Witrivier gaan op 21 November ‘n bietjie skopboks-aksie sien, wanneer die Mpumalanga-proewe gehou word. Dit sal by die Witrivier Skopboksklub se oefensaal (aan die onderpunt van Danie Joubertstraat, langs die MOTH Shellhole) gehou word.
Inskrywings vind tussen 07:00 en 08:00 plaas en daarna kan skopboksers wys hoekom hulle tot die provinsiale span gekies moet word.
Drikkie van Staden moedig skopboksers aan om deel te neem, goeie ondervinding op te doen en ‘n kans te kry om volgende jaar aan die SA’s deel te neem as deel van die Mpumalanga-span. Mpumalanga Kickboxing gaan na afloop van die proewe hulle algemene jaarvergadering hou en alle skopboksers en almal wat by die klub of sport betrokke is, is welkom. Navrae: Van Staden by 073-454-7781 of
wrkickboxing@gmail.com.
