Vlammies se sterre skyn op vele gebiede
Hoërskool Bergvlam se akademiese reuse, sportsterre en leiers is onlangs tydens die skool se merieteaand aangewys.
MBOMBELA – Hoërskool Bergvlam-leerders se ywer en toewyding op akademiese, kultuur-, gemeenskapsdiens- en leierskapsgebiede sowel as in sport is onlangs tydens die skool se jaarlikse meriete-aand erken.
Die matriek dux-leerder Monique Lewis spog met ‘n gemiddeld van 91,4 persent. Sy is ook vereer met die Danie Snyman-wisseltrofee vir die gr. 12-leerder met die hoogste uitmuntende prestasie in wiskunde en fisiese wetenskap.
Monique kon onderskeidelik 94 persent en 92 persent in dié vakke behaal.

Steve Engelbrecht is as die kultuurpersoonlikheid van die jaar aangewys vir, onder andere, ses goue toekennings by die nasionale eisteddfod oor die afgelope vyf jaar, sy wen by die Suid-Afrikaanse talentkompetisie in drama, sy twee streeksoorwinnings in Radikale Redenaars, en sy deelname aan elke revue wat die skool sedert 2012 aangebied het.
Die hoof se toekenning is ook aan hom oorhandig. Skoolhoof me. Annemarie Kleynhans het gesê dit is vir sy leierskap, entoesiasme, vermaaklikheid en betrokkenheid op talle gebiede.

Steve is vir drie jaar tot die skool se studenteraad verkies, voor hy vanjaar adjunkpresident geword het. Hy is verlede jaar as ‘n lid van Mbombela se junior stadsraad aangewys. Hy het vanjaar Mpumalanga op die Nelson Mandela-jeugparlement as provinsiale ambassadeur verteenwoordig.
Op akademiese vlak handhaaf hy ook deurgaans ‘n gemiddeld bo 75 persent en neem nasionaal aan wetenskapsekspo’s deel. Hy is nie net genooi om aan die plaaslike eisteddfod se gala-aand deel te neem nie, maar was ook die seremoniemeester. Boonop was hy by verskeie welwillendheidsprojekte betrokke.

Keisha Jacobs is op haar beurt as die Vlam van Bergvlam vereer. Haar omgee, veelsydigheid van deelname, akademiese prestasies, en lojaliteit is as merkwaardig bestempel.
Sy was op die Onderonsie se redaksie, is ‘n formidabele spreker in Radikale Redenaars en het ‘n groot rol in die skool se Mamma Magic-opvoering vertolk. Keisha het ook vir twee jaar op die junior stadsraad gedien, en is tot sergeant at arms in die jeugparlement verkies.
Kleynhans sê Keisha het voorwaar die skool se leuse van “Brand met trots” versinnebeeld.

Verspringer Maudas Banda is as die sportman van die jaar vereer, terwyl skyfskietkampioen Miranda de Jager as die sportvrou aangewys is.
Maudas het vanjaar weer gewys hy het uitsonderlike talent. Hy het eers ;n nuwe rekord opgestel by die skool se interhuis, en weer toe weer by die interhoër.
By die Suid-Afrikaanse Skole-kampioenskappe het hy weer ‘n goue medalje verower, voor hy by ASA se junior kampioenskappe in Bloemfontein nog een tot sy versameling gevoeg het.
Hy is toe verkies tot die span wat Suid-Afrika by die Afrika Jeugspele in Mauritius verteenwoordig het. Hy het ‘n vierde plek gekry. Daarna het hy sy land weer verteenwoordig, dié keer by die IAAF se Wêreld Jeugkampioenskappe in Colombia.
Hier het hy tot die 20ste plek op die wêreldrandlys vir sy ouderdomsgroep gestyg. Met sy deursettingsvermoë, harde werk en ystere wil verdien hy voorwaar dié eer.

Miranda was nie net kaptein van Mpumalanga se jukskeispan by die Mpumalanga Skole-kampioenskap in Pretoria in Desember 2014 nie, maar het ook ‘n goue medalje gewen in dubbelspel, en een in die trips-afdeling.
Sy het by die Suid-Afrikaanse Junior Jukskeikampioenskappe in Kroonstad weer die provinsiale span gelei, en is tot die kapteins van die streekspan en SA A-span verkies. Laasgenoemde het haar nog ‘n goue medalje besorg.
Sy is vanjaar weer as kaptein vir die o/19 dogterspan wat Mpumalanga by die SA Junior Jukskeikampionskappe in Kroonstad gaan verteenwoordig verkies.
Ere-mierieteskilde is ook oorhandig aan Faantjie Steyn vir die goue medalje wat hy by die nasionale junior kampioenskappe behaal het. Stephan Roodt het ook weereens sy nasionale kleure in skiet behaal.
Top sportsterre volgens kode:
Atletiek
Njabuliso Ngomane – senior dogter
Kabelo Theledi – junior seun
Thandiwe Malinga – junior dogter.
Hokkie
Jeandré Wessels – senior seun
Adelaide Sidell – senior dogter
Emanuel Mashele – junior seun
Caitlin Walters – junior dogter
Krieket
Aiden Soiné – senior seun
Deon Olivier – junior seun
Karli Nel – dogterspeler
Landloop
Henning van Aswegen – senior seun
Monique Lewis – senior dogter
Abraham van der Merwe – junior seun
Netbal

Simoné Fourie – seniorspeler

Andile Phiri – juniorspeler
Rugby

Tristan Louw – seniorspeler

Dylan Sjöblom – juniorspeler
Skiet
Tshepang Raditsela – senior pistoolskut
Janica Viljoen – senior geweerskut
Petri Visagie – junior geweerskut
Sokker
Tristan Laubscher – senior seun
Thulile Mthembu – senior dogter
Howard Sigudla – junior seun
Lebohang Molobela – junior dogter
Swem
Gyula Kasa – senior seun
Monique Lewis – senior dogter
Rinus de Bruin – junior seun
Thelise Saunders – junior dogter
Tennis
Ndumiso Thwala – senior seun
Janette Booysen – senior dogter
Ashraf Arabi – junior seun
Letsatsi Mabaso – junior dogter.
- Lees nog: Bergvlam se atlete maak die skool trots



























