Local sportSport

Witrivier kyk trots terug op seisoen

Ter afsluiting van 'n baie suksesvolle jaar het Witrivier Rugbyklub verlede Vrydagaand Hoërskool Rob Ferreira se studentesentrum op horings geneem.

Die klub is aan die einde van die seisoen, na ‘n skitterende oorwinning oor Nelspruit, as die wenners van die Mpumalanga Rugbyklubliga gekroon en het dit tydens hul prysuitdelingsgeleentheid behoorlik gevier.

Oud-Springbok Wikus van Heerden was die gasspreker en het gemerk dat daar ‘n besonderse gees onder die spelers heers. Hy het spelers aangemoedig om die goeie gees en sportmanskap te koester en genoem dat die terugslae van die lewe juis die dinge is wat jou sterk maak.

Klubvoorsitter Bennie Pringle het daarna aan die woord gekom en trofeë is aan spelers oorhandig wat hulle uitstekend op en langs die veld van hulle taak gekwyt het.

Juan Coetzer het op 37 die trofee vir die oudste speler ontvang, terwyl Clive van Zyl die beste bywoning gehad het.

Driaan Barnard het die trofeë vir beste bywoning en eerstespan-agterspeler van die jaar ontvang. Tiaan Marx het die meeste punte aangeteken en daar is genoem dat sy skopvoet tydens die Mpumalanga-eindstryd van onskatbare waarde was.

Louis Huysamen is aangewys as die speler wat die beste vordering getoon het en Andries de Jäger is gekies as veelsydigste speler.

Conrad Botha het die trofee vir klubman van die jaar ontvang vir sy bydraes op alle vlakke van die klub.

Die tweedespan-voorspeler van die jaar was Neil van den Berg en Andries Coroto was agterspeler. Die eerstespan se voorspeler van die jaar was Ross Omahoney.

Die klub se twee afrigters, Joos Joubert en Ivan Clur, het ook trofeë gehad om te oorhandig.

Clur het Giovanni aangewys as beste voorspeler en Botha as beste agterspeler, terwyl Werner Bekker en Marx as die eerstespan se beste voor- en agterspelers deur Joubert aangewys is.

Pringle het genoem dat daar soveel talentvolle jong spelers in die klub is, maar dat Hennie Botha uitgeblink het en toe as junior speler van die jaar gekies is.

Senior speler van die jaar was Doppies le Roux, wat die span aangevoer het en tot die klub se provinsiale oorwinning gelei het.
Sportman van die jaar was Jacques Kotzé wat sy stempel op alle vlakke afgedruk het en met sy uitstekende spel selfs die Pumas se oog gevang het.

Al die klub se borge is ook vir hulle bydraes tot die klub se sukses bedank, asook almal wat handjie bygesit het om die aand met musiek, kos, dekor en die kroeg te help.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button