Rob se rugbyspelers toer regoor die wêreld
Rugbyspelers van Hoërskool Rob Ferreira het in Oktober aan twee oorsese toere deelgeneem.
Die Elite XV-toerspan, wat na die Danie Rossouw-rugbyweek aangewys is, het Ierland besoek. Die groep het uit 25 spelers van 13 verskillende skole en drie afrigters van Hoërskool Rob Ferreira bestaan. Die jong spelers het in drie wedstryde teen Terreneure Rugbyklub, St. Andrews van Dublin en Munster Youth Club van Limerick gespeel.
Afrigter Stefan van der Merwe vertel dat hulle eerste wedstryd mooi afgeskop het. Tydens die tweede helfte het tipiese Ierse weer toegetree met reën en sterk winde wat haglike speeltoestande veroorsaak het. Die span het egter met 17-10 gewen.
Die tweede toerwedstryd was teen Munster Youth Rugbyklub in puik sonskynweer. Die span het met 47-21 gewen en die klub se president meen een van die beste langafstand drieë is gedurende hierdie wedstryd gedruk.
Die Danie Rossouw Elite-toerspan was ook die eerste besoekende een van Suid-Afrika wat in die klub se 120 bestaansjaar ‘n wedstryd hier kom speel het.
Die laaste wedstryd was teen die provinsiale o/18-kampioenspan van St. Andrews wat die besoekers met 22-0 geklop het.
Die groep het ook verskeie besienswaar-dighede besoek, ‘n binnenshuise oefensessie by die bekende Trinity College Universiteit gehou, en later die aand ‘n universiteit-ligawedstryd daar bygewoon.
Trinity College Rugbyklub staan as die oudste in die wêreld bekend en die tradisie en gees tydens die wedstryd is iets wat die span sal bybly.
Hoërskool Rob Ferreira beoog om voort te gaan met die kies van ‘n senior en junior toerspan, na afloop van die rugbyweek in 2016. Dit bied hierdie spelers die geleentheid om internasionale ondervinding op te doen en nuwe vriende te maak.
Die vierde Danie Rossouw-rugbyweek vind van 20 tot 24 Maart plaas en belang-stellende skole kan die organiseerder, Chris Louw by 013-751-2281 skakel of ‘n e-pos na stuur robfhs@mweb.co.za.
Tulie van Heerden en Barend Swart was ook saam met die sewes-rugbyspan na Mauritius toe vir ‘n internasionale toernooi. Agt spanne van Suid-Afrika, Mauritius en Reunion het deelgeneem, met die plaaslike hoërskool die enigste suiwer skoolspan.

Die afrigters vertel dat die Robbies goeie rugby teen sterk mededingers gespeel het en in die sewende plek geëindig het.
Die Blitzbokke was ook daar en het die spelers en afrigters met tegnieke gehelp wat die spelers sukkel om baas te raak.
Die skool bedank elke ouer vir hul harde werk, asook die borge wat dit vir die span moontlik gemaak het om aan die toernooi deel te neem.
Hier is ‘n paar foto’s van die Elite XV-toerspan se besoek oorsee:



