Fathers Ground se gholfdag weereens ‘n reusesukses
Die jaarlikse Fathers Ground-gholfdag is deur Dandré Neumeyer en Nimrod Smit met 'n puntetotaal van 51 gewen.

Die manne in die tweede plek, Kallie van Staden en Corrie Minnaar was drie punte agter die 2016-kampioene met 47.
Die pretdag het Vrydag by White River Country Club plaasgevind. Die onderskeie besighede het reeds vroeg hulle stalletjies by die onderskeie bowwe opgeslaan.
Dit is in ‘n bestebal, gemeng met ‘n scramble drive-formaat, gespeel.
Met die eerste manne wat om 11:00 afgeslaan het, was dit duidelik dat die spelers goeie telkaarte na afloop van die dag sou inhandig.
Die lafenisse, op amper elke bof, is deur die spelers in die uitmergelende hitte verwelkom en nie een van die 108 spelers kon dehidrasie die skuld vir swak spel gee nie. ‘n Groep van die Fathers Ground se pa’s het op die negende die spelers met ‘n heerlike worsrolletjie bederf.
Peet Welthagen en Lourens Labuschagne het hulle balle perfek op die setperk op onderskeidelik die vyfde en 17de putjies geslaan om die prys vir naaste aan die pen te ontvang. Weber de Klerk (putjie twee) en Les Brandon (putjie 14) het hulle balle die hardste gemoker en die pryse vir verste drywe ontvang.
“Ons wil graag almal vir hul deelname aan ons gholfdag, hetsy as speler, borg of sommer net as ondersteuner bedank. Hou gerus die kalender vir volgende jaar se kompetisie dop, want hierdie gholfdag beloof om elke jaar net beter en beter te word,” het die voorsitter van die Fathers Ground, Corrie Minnaar gesê.
Die Fathers Ground is ‘n organisasie wat sowat 12 jaar gelede deur ‘n groepie baie entoesiastiese pa’s van Laerskool Witrivier gestig.
Die doel is eerstens om geleenthede te skep waar die pa’s en hulle kinders (seuns of dogters) gehaltetyd saam kan deurbring, soos die pa-en-kindnaweke en visvangkompetisies.
Daar word elke jaar verskeie fondsinsamelingsprojekte soos verkope tydens sportgeleenthede, ‘n gholfdag en 4×4-uitstappies gehou.
Die fondse word aangewend vir die opgradering van skoolfasiliteite om vir die leerders geleenthede te skep om hulle volle potensiaal te ontwikkel en te presteer.



































































