Fietsry en stamina is nie net vir jonges nie
Oud maar nog nie koud nie. Dié bekende spreekwoord, is beslis van toepassing op Elie en Santie Fourie wat Sondag die Kaapstad Fietsrytoer (Argus) voltooi het. Dié twee is oor die 70 jaar oud.

Santie (72), wat vanjaar haar vierde Argus aangepak het, het die 109km in 05:46:00 klaargmaak en haar grootste ondersteuner, Elie (74) het na 07:40:00 agter op die saal, die eindstreep gehaal. Dit was sy derde Argus.
Volgens Santie het sy nie eers agtergekom dat sy eintlik moeg is nie as gevolg van haar vorige
ondervinding, die atmosfeer, die en die ondersteuning langs die pad, maar Elie het dit nie so ervaar nie.
“My tong het op die pad gesleep en dit het gevoel asof ek ‘n hele paar keer die gees gaan gee. Na 75km het ek erge krampe in albei my bene gekry. Ek het gedink ek is klaar, maar nadat die mediese personeel my bene gevryf het, het ek weer op my fiets geklim. Op daardie stadium was ek net 20 minute agter Santie. Ek het ‘n hele paar keer my fiets gestoot, veral by Chapmans Peak aangesien jy die opdraande heelpad kan sien, maar Suikerbossie het ek uitgery.”
Die 72-jarige is in haar noppies nadat sy haar tyd tydens die 2014-Argus met meer as een uur verbeter het. Haar eerste Argus was in 2001 waar sy die uitmergelende roete in 06:43:00 klaargemaak het.
Die twee het maar ses weke voor die tyd begin oefen en dink nog nie nou daaraan om volgende jaar weer Kaap toe te gaan nie, maar hulle volgende wedren saam is die Tsogo Sun Amashova Durban Classic in Oktober.
Toe daar aan hulle gevra is hoe hulle nog so aktief op dié ouderdom is, toe antwoord hulle omdat hulle net nog altyd ‘n aktiewe leefstyl gehandhaaf het. “Ons is maar net van natuur baie fisies. Ons is sportmense. En as gevolg hiervan kan ons nog goed soos die Argus ry en selfs Tafelberg uitklim.”
Die Fouries het mekaar in Desember 1960 in Utrecht ontmoet en is vier jaar later getroud. Elie was op daardie stadium 18 jaar oud en het net teruggekom uit die vloot. “Ek het hierdie beeldskone blond oorkant die pad in die dorp sien uitstap by die apteek. Ek het ingegaan en die aptekers agter die toonbank oor die meisie uitgevra. Daardie aand het ek die storie vir my swaer vertel, en tot my verbasing sê my swaer maar dit is sy niggie. Ons eerste amptelike ontmoeting was toe ons my swaer se kinders een aand moes oppas. Ons is daardie nuwejaar gekys by die nuwejaarsdans.”
Hulle het in 1969 na Mbombela verhuis en Elie het die eerste gimnasium in die Laeveld in 1971 oopgemaak. Die twee besit Active Health waar hulle gimnasiumtoerusting verkoop.



