Mbombela se skuts mik vir plekke in Mpumalanga-span
Die tweede van ses prysskietbyeenkomste is op Vrydag 11 Maart by Hoërskool Rob Ferreira aangebied.
Die skote het behoorlik geklap tydens die hoërskole se Prysskiet 2 wat onlangs gehou is.
Daarmee is die Laeveld se skuts goed op dreef om te probeer kwalifiseer vir die provinsiale kampioenskappe later vanjaar.
Die tweede van ses prysskietbyeenkomste is op Vrydag 11 Maart by Hoërskool Rob Ferreira aangebied. Skuts van Curro Nelspruit College en Hoërskool Bergvlam het ook deelgeneem.

Die seuns en dogters moes in drie rondes skiet om hul totale puntetellings te bepaal.
Onder die o/21’s was die gasheerskool se Stephan Holtzhausen eerste in die sporter-afdeling met 1 354 punte.
Sy spanmaat Franzel Theron was tweede met 1 316 punte, terwyl Michael Deyzel, ook van dieselfde skool, kort op haar hakke was met 1 311.

Bergvlam se Petri Visagie kon onder die o/16’s met die louere wegstap.
Hy het 1 315 punte oor die drie rondes behaal. Rob Ferreira se Casper Odendaal was tweede met 1 244, terwyl sy spanmaat Zanté Bensch ‘n derde plek kon losskiet met ‘n totaal van 1 233.
Die gashere se Lee Buys het ook die sporter o/14-afdeling gewen met 1 184 punte. Hy is gevolg deur Bergvlam se Johnny Moore met 1 140 en Rob se Pieter Quinn met 1 052.

In die vere-afdeling vir o/16’s was Stephanie van der Merwe van Bergvlam op die dag die beste. Sy kon 835 punte bymekaar maak.
Gerbrand Burger van Curro se 765 punte het aan hom die tweede posisie besorg. Holger Braun van Bergvlam, met 683 punte, was derde.
Prysskiet 3 sal kort na die skole heropen volgende maand by Rob Ferreira aangebied word.
Na afloop van Prysskiet 6 sal die skuts aan die streekfinaal deelneem, waarna hulle volgens hule punte op uitnodiging aan die Mpumalangafinaal sal kan deelneem.
• Lees meer oor Prysskiet 1: Laeveldse jong skuts maak doodseker dat elke skoot tel
