Goed, beter, Best
Vir almal wat dink bergop teen die Longtom is niks minder as moordend nie, het die afgelope naweek se York Longtom-marathonfoto's die teendeel bewys.

‘n Totaal van 270 deelnemers wat aan die 55km deelgeneem het, het by York Timbers se sportgonde in Sabie weggespring om ‘n hoogte van 1 766m aan te durf. Altesaam 150 atlete het vir die 42,2km ingeskryf en 280 vir die 21,1km.
Vanjaar se 55km-koning, is Best Ngwenya van Nedbank wat die roete in 03:39:35 voltooi het. Met dié eerste plek het hy R800 in sy sak gesteek. Kort op sy hakke was Judas Ntuli van Magnolia met 03:44:16 en nog ‘n Nedbank-atleet, Lovers Hlatshwayo was derde in 03:51:08.
Een van Nelspruit Marathonklub se steratlete wat lank met ‘n besering gesukkel het, Madeleine Whitehaire is terug in haar volle glorie en het die vroue-afdeling in ‘n tyd van 05:11:00 gewen. Nóg ‘n lid van Nelspruit, Bennie Burger wat in die 60+-afdeling deelgeneem het, het in ‘n tyd van 04:58:20 gewen.
Die eerste en tweede plek in die 42,2km het aan Nelspruit se atlete behoort. Sipho Chauke het nege minute voor sy klubmaat, Sipho Ngomane in 02:54:31 klaargemaak. Yolandi Human van Nedbank het die tweede plek vir vroue met 04:29:22 ingeneem.
Legogte se Barbara Hare was die eerste vrou in die 50 tot 59-jaarafdeling met 04:51:20. Die manne in die 21,1km was tot aan die einde kop aan kop, maar dit is deur Dwarsrivier se Tebogo Pulusa in 01:16:30 gewen met Amos Thandekwayo van Midack in 01:17:19 tweede.
LVCC se James Potgieter het goud gewen in die 40- tot 49-jaarafdeling en Legogote Villagers se Lanios Mathebula was eerste in sy klas van 50 tot 59 jaar. Die gespierde Jill Oliphant van RAC was die eerste vrou oor die eindstreep in 01:42:17.
Maria Graney van Run/Walk for Life was die eerste stapper oor die streep met nóg ‘n lid van die klub, Beau Lovell wat in die 60+-afdeling gewen het.
Dié wedloop is weens onvoorsiene omstandige in 2013 en 2014 gekanselleer, maar vanjaar se marathon het beslis nie teleurgestel nie. Hier kon deelnemers ook vir die Comrades kwalifiseer.
Die dag het koel begin, maar die son se strale was vir baie atlete een te veel en die 21 waterpunte was ‘n welkome oase. “Oor die algemeen het ons net positiewe kommentaar van die deelnemers gekry, maar die meeste het gesê dat die roete nie net ‘n geestelike uitdaging was nie, maar hulle ook fisies getoets het. Die meeste sien daarna uit om volgende jaar na Sabie terug te keer,” het die skakelbeampte van York Timbers, Odette van Staden gesê.
Atlete van sover as Dwarsrivier, Kempton Park, Phalaborwa, Steelpoort en Krugersdorp het aan wat as een van die dorpie se mees historiese wedlope beskou word, deelgeneem.
