Pumas nou slaggereed vir seisoen
Die Steval Pumas se sege van 27-21 teen die Vodacom Bulle, kan toegeskryf word aan Justin van Staden se skopskoen.

Die Pretorianers se vleuel, Jade Stiglingh het binne vier minute die eerste drie gedruk en die senter Dan Kriel het kort daarna ‘n tweede gedruk. Dit was net Van Staden se skoen wat die Pumas binne bereik gehou het met drie strafdoele en ‘n skepdoel vir ‘n rustydtelling van 14-12.
Die heelagter van die Pumas, Tyler Fisher het sy span se eerste drie vroeg in die tweede helfte gedruk nadat Carel Greeff op ‘n skop van die Bulle se losskakel, Tony Jantjies afgestorm het.
Die nuweling van die Griekwas het kort daarna, met die Bulle se Freddie Ngoza in die koelkas, sy eerste drie in die 75ste minuut in ‘n Pumatrui gedruk.
Hoewel Manie Libbok daarna ‘n sewepunter vir die span van die Jakarandastad aangeteken het, was dit helaas te laat.
“Ons as afrigters is baie tevrede met die span se oorwinning en ons kan nie wag vir die seisoen om te begin nie. Ek en die hulpafrigter, Hein Kriek het die wedstryd goed geanaliseer en ons kan eerlikwaar sê dat daar meer postitiewe as negatiewe aspekte in die wedstryd was. Ons is reg vir die Curriebeker-kwalifiserende rondes,” vertel die Pumabreier, MJ Mentz.
Die eerste wedstryd op Mbombela Stadion is teen die Hino Valke Vrydag om 19:00. Kaartjies beloop R60 vir volwassenes en R10 vir kinders. Seisoenkaartjies kan teen R750 per persoon gekoop word.
Navrae: tjitjila@pumas.co.za.
Puntemakers
Pumas:
• Drieë: Tyler Fisher en Carel Greeff
• Doelskop: Justin van Staden
• Strafdoele: Van Staden (4)
• Skepdoel: Van Staden.
Bulle:
• Drieë: Jade Stiglingh, Dan Kriel en Manie Libbok
• Doelskoppe: Tony Jantjies (2), Libbok.
