Local sportSport

Valke laat die Pumas lelik op hul neuse kyk

Dit was 'n naweek van verrassende oorwinnings met die afskop van die Curriebeker-kwalifiserende rondes van Johannesburg af tot in Clermont (Umlazi) en Port Elizabeth tot in Mbombela.

Die Grens het hulle eerste oorwinning op Emirates Airline Park in 82 jaar teen die Leeus behaal. Die Boland het die Haaie in Durban geklop en met die Valke se wen was die kaarte behoorlik geskommel.

Die Hino Valke het Vrydagaand by Mbombela Stadion op die Puma-karkas geaas met ‘n oorwinning van 12-9. Die Laevelders kon in die 80 minute van dié kragmeting nie daarin slaag om oor die doellyn te duik nie.

“Ons het nie verdien om die wedstryd te wen nie. Met die volgende wedstryde wat voorlê sal ons meer moet konsentreer om volle punte te vat,” het die Pumabreier, MJ Mentz gesê.

Die losskakel van die Pumas, Justin van Staden wat in hulle laaste opwarmingswedstryd teen die Vodacom Blou Bulle goud werd was, het in die 18de minuut met ‘n strafskop geslaag en wéér die bal deur die pale in die 25ste minuut geklits.

Die Valke is teen rustyd 7-6 kleedkamers toe met ‘n drie deur die haker, Dean Muir na die fluitjie reeds geblaas het. Karlo Aspeling wat die nommer-10-trui dra, het verdoel.

Die Pumas se kaartehuis het finaal inmekaar getuimel met die loskopstut, Khewzi Mona wat in die 57ste minuut koelkas toe gestuur is.

Die besoekers het van die geleentheid gebruik gemaak met die senter, Andrew van Wyk wat ‘n vyfpunter as gevolg van swak verdediging aangeteken het. Aspeling het nie met die doelskop geslaag nie.

Van Staden was in die 70ste minnut met ‘n strafskop suksesvol, maar dit was helaas te laat.

Volgens die afrigter van die Valke, Rudy Joubert, was sy span se dissipline die rede vir hulle oorwinning.

“Om die Pumas op hulle tuisveld te klop, was nooit nie in ons agterkoppe nie. Ons het ses opwarmingswedstryde gespeel en harde werk ter voorbereiding van die nuwe reeks ingesit. Ons het die wedstryd reg bestuur en die meeste gebieds- en balbesit gehandhaaf. Ons het net sewe teenoor die Pumas se 12 strafskoppe afgestaan.” Die Valke was in die 15 van hulle 17 lynstane baas teenoor die nege van die Pumas.

Die span van die Oos-Rand word as die buiteperd in die kompetisie beskou en die oorwinning was geen gelukskoot nie. In die opbou tot die vertoning het hulle oorwinnings oor die Blou Bulle, Leeus en Griffons behaal.

Asof die afskop van die Pumas se Curriebeker-veldtog nie teleurstellend genoeg is nie, is drie van hulle sterspelers moontlik nie beskikbaar vir hul volgende kragmeting teen die Arende in George nie.

Ruwellyn Isbell het sy duim gebreek en is agt tot 12 weke buite aksie. Reuben Johannes (skouer) en Marné Coetzee (elmboog) het gister vir magnetiese renosansspektroskopies gegaan.

Uitslae
• Xerox Goue XV 23 vs. Grens 27
• DHL Westelike Provinsie 30 vs. Vodacom Blou Bulle 16
• Steval Pumas 9 vs. Hino Valke 12
• Cell C Sharks 25 vs. Boland Kavaliers 37
• Toyota Vrystaat XV 32 vs. Windhoek Draught Welwitschias 17
• OP Kings 14 vs. SWD Arende 37.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button