Atletiese ouma steeds ‘n meester op veld en baan
'n Ouma van Komatipoort het talle atlete in die stof laat byt toe sy onlangs vier medaljes by die Gauteng-Noord Meestersatletiekkampioenskappe in Pretoria verwerf het.
KOMATIPOORT – Agatha-Lee du Plessis, ‘n Afrikaanse onderwyser by Komatipoort Akademie, is op 60-jarige ouderdom steeds ‘n kranige baan- en veldatleet en het in die ouderdomsgroep 60 tot 64 aan die Gauteng-Noord Meestersatletiekkampioenskappe deelgeneem.
Sy het goud vir spiesgooi en hoogspring en silwer vir verspring en die 100m-naellope verwerf. Dit is voorwaar ‘n groot prestasie, aangesien sy op eie houtjie oefen en geen afrigter het nie.
Sy sal egter graag bystand van ‘n afrigter wil hê om haar tegniek te verbeter en droom daarvan om talle rekords te laat spat.
Weens Du Plessis se prestasies is sy gekies om in Mei aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deel te neem en is reeds hard besig met voorbereiding.
Sy het nie ‘n spesifieke oefenprogram nie, maar sorg sy dat sy fiks bly en oefen op Komati Akademie se sportgronde, so tussen die sportafrigting van die skoolkinders deur.
Sou sy by die SA Kampioenskappe kwalifiseer om aan die Wêreld-meesterskampioenskappe deel te neem, het sy ‘n keuse om na Spanje (buitenshuise byeenkoms) of Korea (binnenshuis) te gaan.
Sy het egter borge nodig om al die koste verbonde aan die reis en deelname te dek en ondersteuning van die plaaslike gemeenskap sal baie waardeer word.
Du Plessis moes verlede jaar by Gauteng-Noord registreer toe Mpumalanga Baan-en-veld vir Meesters tot haar groot teleurstelling weens te min belangstelling ontbind is.
“Dit is maar ‘n eensame pad om so op jou eie te oefen. Afgesien van die oorweldigende ondersteuning van my familie en ook die skool, kos dit baie toewyding en selfmotivering en dit is moeilik sonder ‘n afrigter. Daar is nie seniors in die omgewing wat velditems en naellope oefen nie. Almal oefen vir marathons,” vertel sy.
Du Plessis het egter met ‘n paar ouers gesels wat op skool of universiteit goed op die baan presteer het en hulle gemotiveer om die atletiekskoene af te stof en saam te begin oefen.
Sy motiveer ook die skoolkinders om aan te hou atletiek oefen ná hulle hul skoolloopbaan voltooi het en leer hulle dat ‘n mens nooit te oud is om iets in die lewe te bereik nie.
