LVCC-atlete oorheers wedloop
Lovers Hlatswayo (30) en Nontokoza Dlamini (27) van LVCC het Saterdagoggend die 10de Bateleur Landgoed Herdenkingswedloop se halfmarathon in ideale hardloopweer met haastige tye gewen.

Hlatswayo se tyd op die stophorlosie was 01:15,36 terwyl Dlamini in 01:38,24 klaargemaak het.
Die 30-jarige het net drie weke gelede, tydens die York Timbers Longtom-marathon, ‘n derde plek in die 55km behaal.
Nóg ‘n atleet in die groenbeffie, Nthutuho Maseko, was ‘n paar minute agter die voorloper in 01:17,51 en Freedom Makubela van Run Walk For Life, was in die derde plek met 01:20,10.
Die tweede vrou oor die eindstreep, was die voormalige Springbok-onderwaterhokkiespeler, Carine Gagiano in ‘n tyd van 01:42,44. Die algehele vrouewenner van vanjaar se Longtom in die 55km, Madelein Whitehair (Nelspruit Marathonklub) was derde.
“Die wedloop het in 2007 ter herdekking van mede LVCC-klublede wat oorlede is sy ontstaan gehad en Bateleur Landgoed borg al die wedloop sedert 2009. Saam met die vier kilometerpretdraf was daar min of meer 600 atlete wat hierdie jaar deelgeneem het. Dit is ‘n pragtige maar taai roete wat jaarliks aangepas word om by die nuwe uitbreidings by Bateleur Landgoed aan te pas,” het organiseerder Mark Greeff gesê.
Nie net het LVCC se atlete in die 21km naam gemaak nie, maar die eerste man en vrou oor die 10km, was ook van die klub. William Mothosola, wat die naweek in aksie by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe by die Coertzenberg Stadion in Stellenbosch gaan wees, het die korter afstand in 32,28 gewen.
Hy hoop om die naweek vir die Rio Olimpiese Spele in die 800m te kwalifiseer.
Noria Sibande het die atleet in die tweede plek, Debbie Williams, met amper sewe minute geklop en die roete in 46,05 voltooi.























































































































