Ratels vermors Belfast in eerste ligawedstryd
Die Ratels, voorheen Ohrigstad Rugbyklub, het op April 9 hulle eerste Mpumalanga Laeveld-rugbyligawedstryd gewen toe hulle Belfast Rugbyklub op Ohrigstad Laerskool se sportgronde aangevat het
Die Ratels, voorheen Ohrigstad Rugbyklub, het op April 9 hulle eerste Mpumalanga Laeveld-rugbyligawedstryd gewen toe hulle Belfast Rugbyklub op Ohrigstad Laerskool se sportgronde aangevat het.
Voor die wedstryd het die Ratels hulle nuwe rugbyklere, waarin hulle vanjaar in die liga gaan pronk, ontvang. Die borgsskap is moontlik gemaak deur Isuzu Westvaal Lydenburg, Electro Diesel en Tyre Corporation vertel Quartus du Toit, mede-afrigter van die Ratels.
Hulle het die volle 80 minute die wedstryd oorheers en gemaklik met 45-14 oor Belfast geseëvier. Die halftydtelling was 26-6 in die guns van die Ratels.
Vir hulle is punte aangeteken deur Marco Mare wat twee drieë gedruk het, terwyl Ruan Steyn, Daandre Oosthuizen, Eben Blignaut, Edward Latsky en Juan van Zyl elk ‘n drie gedruk het. Martin van den Berg het twee drieë verdoel terwyl Juan van Zyl drie drieë verdoel het.
Na die wedstryd het die span by Lame en Ale Restaurant bymekaar- gekom om hulle wen te vier. Liaan Prinsloo is as die beste agterspeler van die wedstryd aangewys en Marco Mare as die beste voorspeler. Die span bedank ook Tafelkop Water en Steelpoort Mining vir die borgskap van die kos en verversings.
Die Ratels het Saterdag Hazyview Rugbyklub vir hul tweede ligawedstryd aangevat.






