Pumas kies nuwe flank teen Boland
Die senter, Hennie Skorbinski is terug in die Steval Pumas se begin vyftiental na vermoedelike spinnekopbyt hom verlede naweek teen die SWD Arende uitgehou het.

Skorbinski vervang Wilmaure Louw, wat nie eens op die plaasvervangersbank vir die derde kwalifiserende Curriebeker-reeks teen die Boland Kavaliers vanaand op Mbombela Stadion ingesluit is nie.
Die meer ervare Deon Helberg sal die geleentheid gegun word om sy hand op te steek.
“Ons wil graag vir Deon so 10 minute op die veld gee. Hy is in goeie vorm en het in die oefeninge gewys dat hy honger is om sy merk moontlik in die toekoms in die beginspan te maak,” sê die afrigter van die Pumas, MJ Mentz.
Die witkopflank, Marnus Schoeman, is ook nie in Mentz se beginspan ingesluit nie. Nardus van der Walt sal die no. 6-trui oor sy kop trek. “Die Boland het ‘n fisiese los-trio en daarom het ons besluit om ‘n groot fisieke speler soos Nardus te kies om oor die voordeellyn te kom.” De-Jay Terblanché, wat vir drie maande rugby in Frankryk vir Club Mont-de-Marsan gespeel het, is terug op sy pos en sal moontlik as plaasvervanger in die vaskopstut, Marné Coetzee se plek opgestuur word.
Die Pumas gaan vanaand met blou armbande ter ondersteuning van outisme opdraf. April is bewustheidsmaand vir dié siekte.
Só lyk die Puma-span
15. Heinrich Steyl
14. Bernado Botha
13. Hoffmann Maritz
12. Hennie Skorbinski
11. Marcello Sampson
10. Justin van Staden
9. Reynier van Rooyen
8. Carel Greeff
7. Lambert Groenewald
6. Nardus van der Walt
5. Hugo Kloppers
4. Stephan Greeff
3, Marné Coetzee
2. Frank Herne
1. Simon Westraad.
Plaasvervangers: Francois du Toit, De-Jay Terblanche, Jannie Stander,
Marnus Schoeman, Emile Temperman, Deon Helberg, Tyler Fisher.
