Local sportSport

Olifante wen harde wedstryd teen Impalas

Die Olifante het hulle ondersteuners en teenstanders verstom toe hulle Saterdag die Impalas op hulle tuisveld in Komatipoort met 'n telling van 10-6 geklop het.

Dit was die eerste keer in jare dat die Malelane Rugbyklub en die Impalas van Komatipoort kragte meet en albei spanne het deeglik voorberei vir die stryd.

Die tweede ligawedstryd van die seisoen was ‘n harde een, met mooi hardlooprugby deur die agterlyne met tye. Die pawiljoen was vol ondersteuners wat luidkeels met die spelers en skeidsregter gesels het.

Die Impalas het aanvanklik die oorhand gehad en is met twee strafskoppe beloon vir ‘n voorsprong van 6-0. Beide spanne het hard geveg en spel het meerendeels tussen die twee kwartlyne plaasgevind.

Na ‘n paar strafskoppe, wat deur Impala-spelers en -ondersteuners bevraagteken is, het die span se dissipline teen hulle begin tel en het Mfundo Mabunda en Ndumiso Masinga daarin geslaag om twee onverdoelde drieë vir Malelane aan te teken.

Die telbord het op 10-6 gestaan toe die eindfluitjie blaas.

Eric Mabuza is gekies as voorspeler van die wedstryd en Ideon van der Merwe as agterspeler.

Die Impalas het die afgelope week hard gewerk by hulle oefeninge en beloof om ‘n sterker en beter eenheid te vorm. Hulle speel Saterdag weer op hulle tuisveld en gaan die keer Witrivier troef. Die wedstryd skop om 16:00 af.

Die Olifante gaan ook Saterdag om 16:00 op hulle tuisveld uitdraf en het die week voorberei vir ‘n taai wedstryd teen die Nelspruit Rugbyklub. Ondersteuners kan ook uitsien na ‘n vriendskaplike wedstryd tussen Malelane Combined XV en die Laeveld Leeulopers om 14:30.

Sien meer foto’s hier.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button