Pumas se slotreus is tydelik terug
Slot van die Steval Pumas, Stephan Greeff word die naweek teen die Goue Leeus 'n ruskans gegun met die Pumas-leenspeler van die Cell C Sharks, Giant Mtyanda, wat terug is.
Afrigter van die Haaie, Gary Gold het versoek dat die hemelbesem teruggestuur word Laeveld toe om wedstrydtyd gedurende die Superrugby-breek te kry. Mtyanda het net vir die Durbaniete teen die Jaguares begin, en was vir die daaropvolgende wedstryde net een of twee keer op die plaasvervangersbank.
Lees ook: Young stars usher in exciting new era
Die rugbyghoeroe, Brendan Venter, wat onlangs swaarde met die Pumas gekruis het, het vroeër die week aan Laevelder gesê dat hy nie ‘n vierde slot in die span sal insluit nie, maar dat die finale besluit by die afrigters lê.
“My kop is op die blok. Ek en Hein (Kriek) het die finale sê. Ons mag dalk van Brendan verskil en ons gaan nie oor alles saamstem nie, maar dit is waar ons lekker saam koppe bymekaar kan sit,” het die Pumabreier, MJ Mentz gesê.
Hugo Kloppers (kaptein) en Jannie Stander draf saam as slotpaar op die veld met Mtyanda wat moontlik vir die eerste keer die seisoen in ‘n Pumatrui kan speel.
Lees ook: Nuwe Pumas teen Zimbabwe
Die negende kwalifiserende ronde van die Curriebeker skop Saterdag 15:00 op KaNyamazane Stadion af.
Tyler Fisher, sou oorspronklik in die plek van Bernado Botha op vleuel begin het, maar Marcello Sampson sukkel met griep en daar word eers vandag ‘n finale besluit oor sy beskikbaarheid geneem.
Emile Temperman sukkel met ‘n dyspierbesering en is moontlik ook nie vir môre se wedstryd beskikbaar nie.
Mits Sampson en Temperman nie kan speel nie, begin Botha en Fisher. Wilmaure Louw, Leighton van Wyk of Damien van Staden sal dan op die bank wees.
Die laaste verandering wat die afrigtingskorps aan Saterdag se span aangebring het, is die twee hakers, Frank Herne en Francois du Toit wat plekke omruil. Herne draf in die beginspan teen die Leeus op.
Lees ook: Steval Pumas wil op hoë noot uit stryd tree
Video: Die Pumas soek Saterdag jou ondersteuning!
